Koringboere steeds onstuitbaar
Darling val vas
Met 13 agtereenvolgende seges en nog ‘n allemintige telling van meer as 80 punte die afgelope naweek lyk die onoorwonne span van Wesbank steeds onstuitbaar en spog hulle, soos slegs een ander span in die hele Boland Grootuitdaag, met 64 ligapunte.
Die enigste ander onoorwonne span tot dusver is Hawston wat in die Overberg ook 64 ligapunte opgestapel het ná 13 wedstryde.

Hier in die Swartland het die Koringboere Saterdag op hul tuisveld weer vir Riebeek United ‘n rugbyles geleer met ‘n sege van 81-12. Dit nadat hulle in die eerste ronde vir Riebeek op hul tuisveld met 85-18 getroef het.
Wesbank het sy voorsprong van 12 punte op die punteleer behou.
Darling het Saterdag by hul bure op Mamre gaan speel en moes in dié klipharde wedstryd die knie buig. Mamre het met 21-13 gewen en die bordjies verhang nadat hulle vroeër vanjaar op Darling met 37-32 teen die tuisspan verloor het. Die Melkboere het nou met twee plekke afgeskuif op die punteleer en beklee tans die vierde plek.
Beide Porterville en Abbotsdale het Saterdag elkeen een plek op die punteleer geklim en beklee nou onderskeidelik die tweede en derde posisies.
Porterville het die besoekers van Never Despair met 38-21 geklop nadat hulle vroeër vanjaar op Malmesbury met 44-40 teen Spairs verloor het. Abbotsdale het op hul beurt hul tuiswedstryd teen Moorreesburg met 52-34 gewen nadat hulle, soos verlede week, ‘n hele entjie agtergeloop het (14-27). In dié twee spanne se kragmeting in die eerste ronde het Abbotsdale met 21-14 gewen.

Die naweek se ander twee wedstryde was dié tussen Saron en Good Hopes en Villagers Wittewater en Koringberg.
Saron het hul tuiswedstryd met twee punte gewen (29-27) en Villagers Wittewater het Koringberg met 39-17 getroef.
Die speelrooster vir dié naweek se derde reeks wedstryde van die tweede ronde lyk so (tuisspanne eerste):
Darling teen Abbotsdale
Good Hopes teen Mamre
Moorreesburg teen Wesbank
Never Despair teen Saron
Villagers Wittewater teen Porterville
Riebeek United en Koringberg het ‘n loslootjie.
