CommunityEntertainmentFEATURED

Riebeek Lentefees raak groter

Die gewilde jaarlikse Lentefees-Basaar van die NG Kerk Riebeek-Kasteel betree vanjaar ‘n nuwe fase met ‘n voller program en groter aanbieding vir besoekers van vroeg tot laat.
Dit vind op 29 Augustus weer op die terrein van Laerskool Riebeek-Kasteel plaas.

Naas die gebruiklike MTB-fietswedrenne, “Trail Run” en pretloop wat die oggend plaasvind, is daar weer die basaar en etes, maar vanjaar is daar nuwe etes, boeresport en ‘n potjiekoskompetisie bygevoeg en die Springbok-rugbyspan se wedstryd teen Nieu-Seeland word ook later op ‘n groot skerm in ‘n tent vertoon.

Die nuwe skaapkopetes word deur die skaapkopkoning, Erik de Milander, berei en daar is ook ‘n groot verskeidenheid etes op die spyskaart, waaronder spitbraai-etes, waterblommetjiebredie en afvalpotjie.
In die basaartent is daar weer basaarpoeding, pannekoek, ‘n verskeidenheid tuisgebak en braaivleis. Daar is vanjaar ook musiekvermaak, nog stalletjies en vermaak vir die kinders.

Vir die fietsryers is daar drie afstandopsies – 12 km, 40 km en 57 km.
“Trail Run”- atlete het twee opsies – 12 km en 21 km – terwyl die pretloop oor 5 km beslis word.
Vir die deelnemers sal daar ook stortfasiliteite wees sodat hulle die hele dag kan saamkuier.
Inskrywings vir die fietswedrenne en wedlope kan op dié webblad gedoen word: Inskrywings
Die rugbytent sal oop wees vanaf 15:00 en die afskop vir die Springbokke se toets teen die All Blacks is geskeduleer vir 17:00. Kroegfasiliteite is reeds beskikbaar vanaf 09:00 die oggend.
Al die spesifieke etekaartjies en toegangskaartjies vir die rugbytent is beskikbaar op Quicket.

Die skaapkop- en spitbraai-etes sal van 15:00 tot 18:00 en die afvalpotjie van 11:00 tot 14:00 bedien word.
Die jaarlikse Porseleinberg 4×4-dag vind vanjaar op 22 Augustus plaas. Die roetegradering is 3. Vir navrae oor die 4×4-dag kontak vir Boet le Roux by 082 807 1224.

Vir algemene navrae kontak die kerkkantoor by ngkerkkasteel@gmail.com .

Leave a Reply

error: Content is protected !!