Grootuitdaag: stryd woed om 2de plek
Met ses naweke oor, is daar nog ‘n hewige stryd om die tweede posisie in die Swartlandse afdeling van Boland Rugby se Grootuitdaagliga.
Die oonoorwonne voorlopers, Wesbank, het na alle waarskynlikheid reeds genoeg gedoen om weer as die streek se kampioen gekroon te word en deur te dring na die Top 12-kompetisie.
Die stryd om die Swartland se ander verteenwoordiger in dié kompetisie teen die top-2 spanne van elke streek te bepaal, kan nog opwindend raak.

Abbotsdale was voor die naweek nog met ‘n kortkop voor met ‘n groter punteverskil oor Porterville, maar hulle kon nie ‘n bonuspunt teen Never Despair verdien nie. Lillies moes diep grawe om hul wegwedstryd teen Spairs met 14-12 te wen en vier ligapunte verdien.
Met Porterville wat op hul beurt met 27-17 baas was in hul derbywedstryd teen Saron, is eersgenoemde nou weer in die tweede plek op die puntetabel, ‘n enkele punt voor Abbotsdale.
Al het Porterville tot dusver vanjaar reeds vier wedstryde verloor teenoor die drie keer wat Abbotsdale die knie moes buig, het Porterville tans vyf meer bonuspunte as Lillies.
Die twee spanne het elkeen een keer gelykop gespeel (Lillies teen Mamre en Porterville vroeër teen Saron).
Mamre het dié naweek met 28-28 gelykop gespeel teen Villagers Wittewater.
Mamre wat tans vier punte agter Abbotsdale in die vierde plek lê, is moontlik die enigste ander span wat nog ‘n kans het om die tweede plek in te neem. Dan sal hulle egter reeds dié naweek die bordjies moet begin verhang deur op hul tuisveld met die besoekende Porterville af te reken nadat laasgenoemde hul wedstryd in die eerste ronde gewen het.

Abbotsdale sal ook Saterdag ‘n byltjie te slyp hê. Hulle speel gasheer vir die spanne van Villagers Wittewater. Lillies het in die eerste ronde in die Put vasgeval.
Die span van Wesbank, die verdedigende kampioen, het Saterdag ‘n oortuigende sege van 67-30 oor Good Hopes behaal.
Hulle kom die komende naweek in ‘n derbykragmeting teen Never Despair te staan.
Darling het op hul beurt op hul tuisveld vir Riebeek United met ‘n wegholsege van 83-12 getroef en Koringberg het op hul tuisveld die bure van Moorreesburg met 24-20 geklop.
*Die komende naweek se speellys (tuisspanne eerste):
Abbotsdale teen Villagers Wittewater
Good Hopes teen Koringberg
Mamre teen Porterville
Moorreesburg teen Darling
Wesbank teen Never Despair
Riebeek United en Saron het ‘n loslootjie
