Lillies in die binnebaan, maar nie veilig
Boland Rugby se Grootuitdaagliga vir vanjaar het die pylvak bereik en die voorste spanne in die Swartland het reeds almal 17 van hul 22 ligaverpligtinge agter die rug.
Met vyf naweke oor, is Wesbank steeds los voor nadat hulle die afgelope Saterdag hul voorsprong op die puntetabel na 16 punte vergroot het.
Die stryd om die tweede plek en om dan ook later vanjaar in die Top-12 van die provinsie mee te ding, is nog fel en oop.

Abbotsdale het wel nou hul neus voor met vier punte voor hul naaste teenstanders, Mamre en Porterville, wat ewe veel ligapunte het.
Mamre is egter tans in die derde plek met ‘n groter punteverskil nadat hulle die besoekende Porterville Saterdag oortuigend met 39-19 geklop het.
Abbotsdale het naas die onoorwonne ligavoorloper, Wesbank, tot dusver die minste wedstryde verloor met drie loesings en een gelykopuitslag op die kerfstok.
Hulle het Saterdag hul tuiswedstryd teen Villagers Wittewater met 39-18 gewen.
Mamre en Porterville sal albei alles in die stryd moet werp om in hul oorblywende vyf kragmetings die maksimumpunte te probeer insamel om hul vierpunt-agterstand te probeer uitwis.
Dit is waarom Porterville se kragmeting die komende naweek teen Abbotsdale vir beide spanne van kardinale belang sal wees en genade na alle waarskynlikheid nie los op die veld sal rondlê nie.

Alles het voorheen nie altyd op en van die veld klopdisselboom gegaan as dié twee spanne mekaar op Pellapark pak nie en Porterville het ook ‘n byltjie te slyp nadat hulle vroeër vanjaar teen Lillies vasgeval het.
Abbotsdale het in die eerste ronde die kragmeting op hul tuisveld gemaklik met 50-24 gewen.
Hulle sal egter ‘n groot fout maak as hulle die Portervillers op hul tuisveld onderskat.
In die twee spanne se laaste kragmeting op Pellapark, dié van die tweede ronde verlede jaar, het Abbotsdale daarin geslaag om met 33-27 te wen nadat hul vroeër op hul eie tuisveld net-net met 41-39 die knie voor Porterville moes buig.
Mamre, kom Saterdag in ‘n wegwedstrys teen Saron te staan. Laasgenoemde beklee tans die sewende plek nadat hulle Saterdag hul wegwedstryd teen die agteros, Riebeek United, met 22-19 gewen het.
In Saterdag se derbystryd tussen Wesbank en Never Despair het die Koringboere aanvanlik ‘n groot voorsprong van 29-0 opgebou voordat Spairs hul voete gevind en ‘n onbeantwoorde 21 punte op die telbord kon plaas.
Hierna het Wesbank egter die krane oopgedraai en gewys waarom hulle nog nie vanjaar voor enige opponente die knie moes buig nie en uiteindelik die wedstryd met 46-26 gewen.
Op Moorreesburg het die besoekende span van Darling 5 ligapunte verdien met hul sege van 41-24 oor die tuisspan.

Good Hopes het op Riebeek-Wes ‘n groot sege van 41-10 oor Koringberg behaal.
Die spelrooster vir die komende naweek (tuisspanne eerste) is:
Darling teen Koringberg
Moorreesburg teen Good Hopes
Never Despair teen Riebeek United
Porterville teen Abbotsdale
Saron teen Mamre
Villagers Wittewater teen Wesbank
