Stassen praat by Moorreesburg Sakekamer
Onder die belangrikste fokuspunte van die Moorreesburg Sakekamer tel die skep van toestande waarin plaaslike besighede doeltreffend kan funksioneer en die lok van beleggings van nasionale kleinhandelaars, vervaardigers en diensmaatskappye, terwyl die dorp ook aan potensiële nuwe inwoners bemark word.
Só sé die voorsitter van die sakekamer, Fritz Els, in sy onlangse oorsigverslag. Hy lig ook van die suksesse wat reeds behaal is, toe.

Die Moorreesburg Sakekamer se volgende lede-aand en algemene jaarvergadering vind Maandagaand 3 Augustus (17:30 vir 18:00) by die gholfklub op die dorp plaas.
Die spreker van die aand is Louis Stassen. Dié oud-leerder van Hoërskool Dirkie Uys is ‘n beleggingsveteraan. Hy is ‘n stigterslid en voormalige hoofbeleggingsbeampte van Coronation Fondsbestuurders. Stassen gaan sy storie deel – die waardevolle lesse en suksesse op sy besigheidspad.
Die jongste oor die nuutste ontwikkelings en ander inisiatiewe vir die dorp sal ook die aand toegelig word.
Die sakekamer het ook Donderdagoggend 6 Augustus van 07:15 tot 08:30 ‘n “Power Hour”-ontbyt by Die Hut. Die spreker is Fanus Basson van Absa.
Vir navrae en besprekings, kontak Madelein Groenewald by 082 546 4689 of admin@moorreesburgsakekamer.co.za

In sy oorsigverslag vir die eerste semester van 2026 sê Els gesprekke alleen is nie genoeg om vorentoe te beweeg nie. “Ons het aksie en meetbare resultate nodig.”
Onder die belangrike projekte tel die uitbreiding van die CCTV-netwerk waar daar in samewerking met ander rolspelers kameras by strategiese punte in die sakekern en residensiële misdaadbrandpunte geïnstalleer is. Die stelsel het reeds gehelp met suksesvolle vervolgings.

Hy wys ook op nuwe takke van nasionale groepe wat reeds geopen is en binnekort volg. Dit sluit Mr Price, Pep, Hungry Lion en Clicks in. Gesprekke met Capitec duur voort. ’n Industriële ontwikkelingsvoorstel is in ’n gevorderde stadium, terwyl daar ook ontwikkelaars is wat belangstelling toon in hoër-inkomste behuising.
Daar is ook planne om sekuriteit by openbare sportfasiliteite te verbeter om voortdurende vandalisme te bekamp. Els doen ‘n beroep op inwoners om eienaarskap van hierdie bates te neem.
’n Eiendomsagente-forum is ook gestig om die bemarking van die dorp te verbeter.
“Ons het baie bereik, maar daar bly nog baie om te doen.”
Vir die volledige oorsigverslag, besoek www.moorreesburgsakekamer.co.za
