Lillies waarskynlik saam met Wesbank in Top 12
Al lê hulle tans onderskeidelik laaste en tweedelaaste, is Koringberg en Riebeek United die spanne van Abbotsdale en Porterville se laaste hekkies om finaal te bepaal wie tot die Top 12 deurdring.
Abbotsdale het in die pylvak van die Grootuitdaagliga se Swartlandstreek weer hul neuse voor en sal na alle waarskynlikheid tweede eindig in die liga.
Hulle speel wel weg teen Koringberg, maar het net ‘n oorwinning (vier ligapunte) nodig om Top 12- toe te gaan. Hulle het in die eerste ronde ‘n wegholsege van 116-12 oor Koringberg behaal. Lillies lê ná hul vyfpuntsege (49-28) gister oor Saron nou met 80 punte weer een punt voor Porterville (op 79 punte) wat in die laaste ronde gasheer speel vir Riebeek United.

Al sou Porterville een ligapunt meer verdien as Abbotsdale om die liga gesamentlik op 84 ligapunte af te sluit, sal Abbotsdale op punteverskil tweede eindig.
Dit lyk asof die streekkampioen, Wesbank, so na die einde van die liga toe ‘n bietjie die voet van die versneller gelig het om hul spelers te spaar vir die Top 12-ronde.
Die Koringboere wat voor die afgelope Saterdag nog onoorwonne was, het dié status nou ingeboet toe hul op tuisbodem die knie gebuig het voor Porterville. Die besoekers het verras en met 25-23 gewen. Wesbank speel in hul laaste ligawedstryd weg teen Mamre.
Darling kan teoreties ook nog in die tweede plek eindig indien die onwaarskynlike gebeur dat beide Abbotsdale en Porterville oor hul laaste hekkies struikel.
Die Melkboere het die besoekende Good Hopes van Riebeek-Wes gister behoorlik ‘n rugbyles geleer en hulle met 82-10 afgeransel.
Die naweek se ander uitslae:
Koringberg 24, Mamre 26;
Villagers Wittewater 73, Riebeek United 15;
Moorreesburg 24, Never Despair 50.

Die spelrooster vir die laaste ronde op 29 Augustus lyk so (tuisspanne eerste):
Good Hopes teen Villagers Wittewater
Koringberg teen Abbotsdale
Mamre teen Wesbank
Never Despair teen Darling
Porterville teen Riebeek United
Saron teen Moorreesburg
