Agri/BusinessLatest

Malmesbury Skaapstudiegroep vereer weer top-kuddes

Die kuddes van lede van die skaapstudiegroep van Agri Malmesbury is vanjaar weer beoordeel en die wenners het hul toekennings tydens die 44ste jaarlikse kuddedag op die Malmesbury Skougronde ontvang.

In die Merino-afdeling het Janneman Louw met die eerste plek die Merinotelersgenootskapwisseltrofee ingepalm. Elandsberg Plase was in die tweede plek en Stevie Hamman derde. Die prys vir die beste wol (BKB-wisseltrofee) is toegeken aan Elandsberg Plase met Nicol Mostert wat die toekennings vir die beste GDT (gemiddelde daaglikse toename) asook die Callie van der Merwe-wisseltrofee vir die beste jongooi ontvang het.

Wenners in die Merino-afdeling: Juan Louw (derde van links) het die wennerstrofee ontvang. Elandsberg Plase (verteenwoordig deur Joseph Baadjies, naaslinks) was tweede met Stevie Hamman (verteenwoordig deur Jan Olivier, naasregs) in die derde plek. Nicol Mostert (derde van regs) het die toekennings vir die beste gemiddelde daaglikse toename asook die Callie van der Merwe-wisseltrofee vir die beste jongooi ontvang het. Saam met hulle staan Eben Schellink (heellinks), voorsitter van Agri Malmesbury se skaapstudiegroep, en Dewald Vrey (van Octavoscene, die hoofborg) heelregs.

Caledonville Plase het in die Dohne Merino-afdeling met die louere weggestap en daarvoor die Dohne Telersgenootskap-wisseltrofee ontvang. Groot Phesantekraal was tweede en Oubasie Lesch het die derde prys ontvang. Die pryse vir beide die beste wol (BKB-wisseltrofee) en die beste bouvorm is ook aan Caledonville Plase toegeken.

Wenners in die Dohne Merino-afdeling: Die wentrofee is aan Hugo Torr (middel) van Caledonville Plase oorhandig. Groot Phesantekraal was tweede (verteenwoordig deur Jeandre Brink, naaslinks, en sy seun, Daniël) met Oubasie Lesch (naasregs) in die derde plek. By hulle is Eben Schellink (heellinks), voorsitter van Agri Malmesbury se skaapstudiegroep, en Dewald Vrey (van Octavoscene, die hoofborg) heelregs.

In die afdeling vir SA Vleismerino’s het Danie van Breda die eerste prys (SAV Telersgenootskap-wisseltrofee) verower, gevolg deur Michiel Smuts (2de) en Martin Bester (3de). Beide die pryse vir die beste wol en die beste bouvorm is ook aan Danie van Breda toegeken.

SA Vleismerinowenners: Dries de Villiers (middel) het die eerste prys namens Danie van Breda ontvang. Michiel Smuts (naaslinks) was tweede met Martin Bester (naasregs) in die derde plek. Beide pryse vir die beste wol en die beste bouvorm is ook aan Danie van Breda toegeken. Saam met hulle staan Eben Schellink (heellinks), voorsitter van Agri Malmesbury se skaapstudiegroep, en Dewald Vrey (van Octavoscene, die hoofborg), heelregs.

Nicol Mostert het vanjaar die Rumevite/Kaapstad Lewendehawe Agentskap-trofee vir die beste vordering oor alle rasse ontvang.

Nicol Mostert (regs) het die toekenning vir die beste vordering oor alle rasse ontvang. By hom is Dewald Vrey van Octavoscene (hoofborg).

In die slaglamkompetisie het ‘n inskrywing van Johnny Forbes (Vredesig Boerdery) aan hom die Vleissentraal-wisseltrofee vir die Kampioenslaglam besorg. Ewan Louw (Nuweland) het die Reserwekampioen in dié afdeling ingeskryf terwyl Forbes ook die derde plek ingepalm het.

Slaglamwenners: Johnny Forbes (middel) van Vredesig Boerdery het die Kampioenlam en die Kampioengroep ingeskryf. Ewan Louw (naaslinks) van Nuweland Dormers het die prys vir die Reserwekampioenlam ontvang. Saam met hulle staan Eben Schellink (heellinks), voorsitter van Agri Malmesbury se skaapstudiegroep, Dewaldt Linde (Vredesig) en Dewald Vrey (van Octavoscene, die hoofborg), heelregs.

Forbes het ook die Kaapstad Lewende Hawe-wisseltrofee vir die kampioengroep ontvang en ook die reserwekampioengroep ingeskryf.

Die kampioenslaglam van Johnny Forbes (regs) is tydens die slaglamveiling vir ‘n bedrag van R5 350 aan Ian Fourie (naaslinks) verkoop. Saam met hulle is Dewaldt Linde van Vredesig en Janko Forbes.

Onder die skoliere wat die dag se lesings bygewoon het, het Phillip Viljoen van Hoërskool Porterville die AgriExpo-prys vir die deelnemer met die meeste passie en leergierigheid ontvang.

Skolier wat die meeste passie en leergieirgheid getoon het: Phillip Viljoen van Hoërskool Porterville. Dié prys word geborg deur Agri- Expo. Chris Fourie, president van Agri-Expo, het dit oorhandig.

Benjamin Turner van Augsburg Landbougimnasium is as die Stockman van die Jaar aangewys. Stefan Naude van Hoërskool Porterville was tweede, gevolg deur Hanri Cloete (3de) van Hoërskool Stellenbosch, Danie Kraft (4de) van Augsburg en Christie Kotze (5de) van Porterville.

Skoliere: Stockman van die Jaar:
Die 2026 Stockman van die Jaar is Benjamin Turner (derde van links) van Augsburg Landbougimnasium. Langs hom staan Stefan Naude (2de plak) van Hoërskool Porterville, gevolg deur Hanri Cloete (3de) van Hoërskool Stellenbosch, Danie Kraft (4de) van Augsburg en Christie Kotze (5de) van Porterville. Saam met hulle op die foto is Eben Schellink (voorsitter van Agri Malmesbury se skaapstudiegroep), Dewald Vrey van Octavoscene (hoofborg) en Chris Fourie (heelregs), president van Agri-Expo, wat die pryse oorhandig het.
Jong skoliere van die Christelike Privaatskool Malmesbury het van die uitstallings en masjinerie van nader kom besigtig.

Leave a Reply

error: Content is protected !!