Koringboere, Lillies se fokus skuif na Top 12
Net soos verlede jaar sal die Swartland weer deur Wesbank en Abbotsdale verteenwoordig word in Boland Rugby se Top 12-liga wanneer die top-spanne van die provinsie oor ‘n paar weke begin meeding om die gesogte algehele Bolandtitel.

Daardie pad vir die Swartlanders, streekkampioen Wesbank en naaswenner Abbotsdale, gaan gewis nie maklik wees nie. Straks ‘n tikkie makliker vir die Koringboere omdat hulle reeds ‘n paar weke gelede hul plek in die Top 12 verseker het en dus die laaste klompie wedstryde nie nodig gehad het om op al hul silinders te vuur nie. Hulle het twee keer gelykop gespeel en een keer die knie gebuig teen Porterville, die enigste span wat dit vanjaar kon regkry om vir Wesbank te klop.
Lillies darenteen moes tot die einde als in die stryd werp vir die tweede plek om vir Porterville uit die tweede plek te hou.
Met hul wegholsege (80-8) dié naweek teen Koringberg het Abbotsdale die nodige 5 punte verdien om een punt voor Porterville te eindig. Laasgenoemde het in hul laaste wedstryd vir Riebeek United met 45-5 geklop.
In die Top 12 wag verskeie bulspanne waaronder die verdedigende kampioen, Saldanha (wat ook in 2019 en 2020 die kampioen was). Daar is ook Robertson (die kampioen van 2024), Worcester Villagers, Hawston, Invincible en Delicious uit die Noordweste en Wellington se Roses United. Drie van die streke se ligas is nog nie afgehandel nie en die Overberg, Weskus en Witzenberg/Sentraal se tweede verteenwoordigers in die Top 12 is nog nie bekend nie.

Terug by die Swartland se wenners en naaswenners.
Wesbank het hul eerste 18 kragmetings op ‘n streep gewen en toe teen Abbotsdale gelykop gespeel voor hulle hul 19de sege (oor Saron) behaal het en daarna teen Porterville vasgeval en in hul laaste wedstryd (weg) die louere met Mamre gedeel (28-28).
Lillies het op hul beurt vroeg reeds in hul derde wedstryd tuis teen Darling verloor en daarna nog drie keer die knie gebuig (voor Villagers Wittewater, Wesbank en Porterville) en twee keer gelykop gespeel (teen Mamre – 22 elk en teen Wesbank – 35 elk).
Dié naweek se volledige uitslae (tuisspanne eerste) is:
Good Hopes klop Villagers Wittewater 24-10
Koringberg verloor teen Abbotsdale: 80-8
Mamre speel gelykop teen Wesbank: 28-28
Never Despairs klop Darling 19-7
Porterville klop Riebeek United 45-5
Saron klop Moorreesburg 48-19
