CommunityEntertainmentLatest

Darling se veldblomskou om die draai

September is blomskoutyd in die Swartland met die Darling Veldblomskou, een van die oudste van sy soort, wat weer aanstaande week op dié dorp gehou word.
Darling is die tuiste van ‘n groot verskeidenheid veldblomme, waarvan talle seldsame spesies nêrens anders in die wêreld voorkom nie.

Die Darling Veldblomvereniging is reeds in 1915 gestig en die veldblomskou, een van die groot hoogtepunte op die Swartland-kalender, lok jaarliks duisende besoekers na die dorp en streek.
Die derde naweek in September elke jaar deel die vereniging die botaniese skoonheid van die streek in die vorm van die veldblomuitstalling wat die renosterveld, vleiland, sandveld en strandveld uitbeeld.
Die skou is vir die eerste keer in 1917 gehou en het mettertyd ontwikkel tot ‘n gewilde byeenkoms wat dikwels besoek van bekendes en ook oorsese toeriste ontvang.
Besoekers kry die geleentheid om van die unieke veldblomme wat dikwels nie maklik bereikbaar is nie, van naby te sien. Daar is ook ‘n spesietafel waar die blomme met hul botaniese en algemene name soos Bobbejaantjie, Kelkiewyn en Snotrosie uitgestal word.

Van 18 tot 20 September 2026 kan skougangers by die Darling-buiteklub naas die besondere uitstalling ook uitsien na ‘n buitelugmark met plaaslike handgemaakte produkte en plante, ‘n kunsuitstalling, wyne van die distrik proe, ‘n uitstalling van veteraanmotors asook trekkerritte, musiekoptredes, ‘n kinderspeelarea en ‘n verskeidenheid kos en ander drinkgoed.
Vir meer ingtling, besoek gerus die Darling Veldblomvereniging se webtuiste.
Kaartjies vir die skou is beskikbaar op Quicket of by die hek.

Leave a Reply

error: Content is protected !!