Swartland Toerisme brei direksie uit
Die lede van die Swartland Toerisme nie-winsgewende maatskappy het op sy jaarvergadering op Darling ‘n nuwe direkteur vir dié dorp verkies.
Die direksie het tot dusver uit vyf lede bestaan, maar ‘n goedgekeurde aanpassing in hul akte van oprigting maak voorsiening vir die uitbreiding om ‘n verteenwoordiger vir Darling, Yzerfontein, Moorreesburg/Koringberg, Malmesbury en die Riebeekvallei te verseker.

Frits van Ryneveld van Darling Sweet/Evita se Perron is die nuwe direkteur wat Darling sal verteenwoordig.
Die res van die direksie is nou Ashley Stone en Nelius Volschenk van Riebeek-Kasteel, Andro Engelbrecht en Nicole Neethling van Malmesbury en Adré Rheeder van Yzerfontein.

Stone en Volschenk dien reeds drie jaar op die direksie. ‘n Direkteur se termyn is drie jaar waarna hu/sy vir nog een termyn direk daarna kan dien. Volschenk het aan dié courant bevestig dat daar besluit is dat hulle vir ‘n tweede termyn sal dien.

Engelbrecht en Neethling is op die jaarvergadering twee jaar gelede by Contreberg tot die direksie verkies en lede het Rheeder ‘n jaar gelede ingestem.
Daar was intussen vanjaar geen nominasies vir Moorreesburg/Koringberg nie en is dié dorpe se verteenwoordiging tans nog vakant.
