LatestOns Mense

‘Regeer is vir uitsien’ – Van Essen oor 26 jaar op die raad

As jy dit weer moes doen?
Ek dink ek sou meer en dieper na die beleide gekyk het en dieper in die begrotings ingegaan het. My Pa het altyd gesê: “Regeer is vir uitsien. Nie vir vandag nie. Dit moet ‘n plek wees waar jy môre wil wees. Oormôre wil wees.” Met ander woorde as jy regeer moet jy sorg dat jou nageslag op die ou end ‘n goeie omgewing oorhou. Jy moet ‘n visie hê. ‘n Doel hê. Dit moet jy doen aan die hand van begrotings en beleide. Ek dink nie ek het heeltemal daarin geslaag nie, want jy is heeltyd besig met vandag se goed.”
Aan die woord is Raadsheer Tijmen van Essen wat vandeesweek groet ná 26 jaar op die Swartlandse stadsraad.

Dit is ook vandeesweek presies 53 jaar sedert hy en Doedtie op 9 November 1973 ná 16 dae ter see op ‘n boot uit Friesland in Kaapstad aangekom het.
Hulle praat nog steeds Fries in die huis.
Op die ouderdom van 22 (ses maande getroud), was die plan dat hy hier by se oom se boubedryf betrokke raak en ‘n loopbaan bou.
Dié planne het hy vinnig besef sal nie werk nie. Hy moes toe kies tussen Johannesburg en Malmesbury en het nog voor die einde van 1973 in die bou-afdeling by die Afdelingsraad op Malmesbury begin werk.
Nou is hy oud-burgemeester en (sodra die nuutste verkiesingsuitslae in die staatskoerant gepubliseer is, ook) oud-raadslid van die Swartland.
Daar is min wat die infrastruktuur van die Swartland (bo, maar veral ook onder die grond), so goed ken soos hierdie 75-jarige oud-bouer.
Ons drink verlede week koffie op ‘n koel oggend op Malmesbury en gesels oor die 53 jaar in die Swartland.
As jy ná 26 jaar op die raad terugkyk na jou eerste dag daar, wat sal jy vir jou jonger self sê?
“Ek het in die raad ingegaan met ‘n klomp idees. Ek was verkeersirkelbe…. en wou bv. verkeersirkels sien waar Bokomoweg en Piet Retiefstraat by Voortrekkerweg aansluit, maar ek moes leer daar is twee pole. Daar is die politieke been en die administratiewe been. As die twee saamwerk, gaan dit goed, anders gaan dit verkeerd.
“Ek het ook eers gedink, soos wat die meeste dink, dat as ek op die raad sit, dan is ek die baas. As ek die burgemeester word, is ek die baas, maar toe kom ek agter ek is net die baas oor die een been en nie oor die res.”
Van Essen vertel van sy beginjare by die Afdelingsraad. Hy was verantwoordelik vir bouwerk en sy eerste gebou was die een ablusieblok in die Yzerfontein Woonwapark.

Hy was later tegniese beampte en boubeheerbeampte en het ook as assistent-stadsingenieur by die Malmesbury Munisipaliteit gewerk voor hy in die vroeë 80’s bedank en sy eie boubesigheid begin het.
Die eerste huis wat hy gebou het, staan in St. Thomasstraat. Later het ‘n hele klompie op Malmesbury en Yzerfontein gevolg.
Die boubedryf was goed vir my, “maar my kwaliteit wat ek oorsee geleer het, was te hoog. Dit was moeilik, want met daardie standaard en daardie kwaliteit was ek te duur om te kompeteer met die standaard waarmee ander gebou en mense hier mee tevrede was.”
Hy het by die belastingbetalersvereniging betrokke geraak en aanvanklik in die 90’s van die belastingbetalersvereniging af op die oorgangsraad gekom. Dit was vir omtrent 9 maande.
“Jannie du Plessis was een van die dryfvere van die belastingbetalersvereniging. Ons was eintlik opposisie vir die raad. Dit het hulle nie aangestaan nie.
“Die belastingbetalersvereniging het aanvanklik uit mense uit bestaan wat nie by spesifieke groeperings was nie. Hulle het ons wel probeer infiltreer en later reggekry. Die raad was beheer deur hulle.”
Nadat hy in 1996 Suid-Afrikaanse burgerskap aanvaar het, het Van Essen in 2000 aangesluit by die DP en toe ná 2000 se verkiesing het hy ‘n raadslid geword in wat nou wyk 10 is.
Sedertdien het hy ononderbroke op die raad gedien en was met sy kennis van die infrastruktuur van die begin af belas met die ingenieursdepartement.

‘Regeer is vir uitsien’ – Van Essen oor 26 jaar op die raad

‘n Fotoblik –

Toe die burgemeester, Anton Bredell, in 2009 ‘n LUR word, het Van Essen hom opgevolg en is in 2011 en 2016 weer in dié amp verkies. Omdat hy net twee volle termyne as burgemeester mag dien, was hy in 2021 outomaties nie weer beskikbaar nie en het vir nog 5 jaar as raadslid (wyk 10) gedien.
“Ek en Joggie (Scholtz, munisipale bestuurder) het mekaar goed verstaan. Joggie het die munisipaliteit regeer en ek het hom daarin ondersteun.
“Hanlie Linde (munisipale bestuurder van Bergrivier) het al gesê sy sien as ek en Joggie op ‘n vergadering is en ons kyk net vir mekaar, dan weet ons die een die ander wat ons vir mekaar wil sê.”
Gevra na projekte wat nie uitgewerk het soos hy dit sou wou sien nie, sê Van Essen: “Die meeste goed het waar geword. Baie is mos later in jou skoene ingeskuif soos die uitbreiding van die industriële gebied; die dorp wat uitgebrei het; ons het HOP-huise laat bou; vir eerste kopers kanse geskep.
“Toe die eerste fase verby is en ek verstand begin kry, toe begin die realiteit inval. Die Swartland is groter. Jy moet ook oor die ander dorpe soos Riebeek en Moorreesburg en Koringberg dink.”
Hy gesels oor gereelde vergaderings saam met Scholtz by Sanral om aspekte van die N7-opgraderingsprojek te onderhandel waarvan hulle die meeste in die Swartland se guns kon beding.
Daar is wel twee van hul ander planne waaroor Van Essen tot vandag vir die provinsie vies is dat dit nie gerealiseer het nie:
die provinsie wou nie ‘n aansluiting van die nuwe verbypad tot Piketbergweg bou nie en
die provinsie wou ook nie die planne vir die verbreding van die Voortrekkerwegbrug oor die Dieprivier tot drie bane en hangvoetgangerbrûe daaraan goedkeur en op die 80/20-verhouding finansier nie. “Dit sal nou by die R100 miljoen kos net vir die brug en dit sluit nie eers die beplande sirkel by die Rozenburgweg-aansluiting in nie.”

Ons gesels ook oor finansiële bestuur.
“Toe ek burgemeester geword het, het ons net so onder die R200 miljoen in die bank gehad. Ons het nou R1,2 biljoen in die bank. As jy die nuwe rioolwerke, nuwe reservoirs, ‘n klomp paaie wat gebou is wat eers grondpaaie was, als in berekening bring, het ons nie net gespaar nie, maar ook al daardie goed gebou
“Ek dink dit is waarop ek die trotsste is. Ons kan nou ons kapitaalbegroting uit die rente uit betaal. Dit is een van die groot voordele wat ons het.”
Nog twee goed waarop hy besonder trots is, is die Malemsbury rioolwerke en die Malmesbury stortingsterrein. Die rioolwerke is dan ook vroeër vanjaar na hom vernoem vir sy visie en bydrae om dit tot stand te bring.
“Hier is ontwikkeling. Ons kan net groei as ons verkoop, anders stagneer ons.
Daar moet meer belasting inkom. Ons kan net die belasting laag hou, as ons verkoop en nuwe belastings inkry.”
Van Essen sê “ook die manier waarop ons dorpe geïntegreer het, was goed, al is ons nou weer by dorpsbestuurders by party dorpe.”

Het jy enige raad vir nuwe raadslede?
“Ja, die enigste raad wat ek het, is hulle moet nie dink dat hulle die baas van die munisipaliteit is nie. Hulle moet die administrasie aan die administrasie oorlaat en hulle moet die beleid neerlê.
“Almal wil hulle bemoei met die gat in die pad. Vergeet van die gat in die pad. Dis nie jou probleem nie. Gee dit deur en dan moet jy wegstap daarvan. Sôre dat die beleid reg is.”
As die politici nie ‘n invloed op die begroting uitoefen nie en dit aan die amptenare oorlaat, “het ek daarmee ‘n enorme probleem. Jý moet sê wat jy wil hê en dan moet hulle dit deurvoer.
“Dink aan môre.”
Van Essen het die laaste klompie jare gesondheidsuitdagings beleef. “Ek is nog onder doktersbehandeling en al sal mens nooit weer dieselfde wees nie, gaan dit nou eintlik baie goed met my gesondheid”.
Wat gaan hy nou doen?
“Ek weet nie wat ek gaan doen nie.
“Ek was so 18 tot 20 ure per dag by die munisipaliteit betrokke. Dit is nie maklik om te sê nou is dit verby. Maar ek gaan eers vakansie hou.”
Hy sê hulle gaan op Malmesbury aanbly.
“Ek gaan nie trek uit Malmesbury nie, soos dit nou lyk.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!