Groen Piketbergroete 366 wys hoe toerisme gemeenskappe bevoordeel
Toerismemaand in die Wes-Kaap is amptelik in die Weskus van stapel gestuur met die bekendstelling van die Groen Piketbergroete 366.
Toerismebelanghebbendes, gemeenskappe en vennote het die bekendstelling, om te wys hoe verantwoordelike toerisme hoop, geleenthede en gedeelde waarde help skep, bygewoon.

Op Goedverwacht het vroue en kleinskaalboere tradisionele produkte, tuisgemaakte kaas en plaaslike geroosterde koffie ten toon gestel. Merle Dietrich, een van die dryfvere agter die Groen Piketbergroete 366, het verduidelik hoe toerisme gemeenskapstuine met restaurante en ondernemings verbind.
Afgevaardigdes het die roete verken met onder meer ‘n plaas-tot-tafel-ervaring by die Piekenierskloof-bergoord en ’n teeproe by Carmién Tea.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, het gesê: “Die Groen Piketbergroete 366 is ’n blink voorbeeld van hoe toerisme erfenis bewaar, plaaslike besighede ondersteun en verseker dat gemeenskappe voordeel trek uit die besoekers wat die Weskus kom ervaar.”

Die munisipale bestuurder van Bergrivier, Adv. Hanlie Linde (links), en dr. Ivan Meyer (Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme) het saam aan die boomplantplegtigheid, as teken van ’n nuwe hoofstuk vir toerismegroei in die streek, deelgeneem.
