Meer koring en minder kanola vanjaar aangeplant
Terwyl dit winter is in die Wes-Kaap en toestande tans gunstig lyk vir die grootste deel van die wintergraanproduksiegebied, is die jongste oesskattingsyfers bekend gemaak.
Volgens die nasionale oesskattingskomitee se jongste syfers is daar vanjaar 536 950 hektaar koring in die land aangeplant nadat daar voorheen geskat is dit sou 513 450 ha wees.
Dit beloop 6,68% of 33 600 ha meer is as die 503 350 ha wat verlede jaar aangeplant is Die totale oes in 2018 was 1 868 000 ton.
Van die aangeplante 536 950 ha vanjaar is 324 000 ha in die Wes-Kaap. Daar was verlede jaar 318 000 ha aangeplant en die Wes-Kaap se koringoes was 890 500 ton.
Die kanola wat vanjaar aangeplant is, is 74000 ha teenoor die aanvanklike verwagte 80 000 ha. Verlede jaar is 77 000 ha aangeplant en die totale oes vir 2018 was 104 500 ton.
Na aanleiding van ’n versoek van die bedryf, is daar besluit om hawer (ontbytgraan) ook voortaan by in toekomstige skattings te inkorporeer. Die voorlopige oppervlakteskatting vir hawer vir die 2019-seisoen is 22 000 ha.