Moorreesburg-kunstenaars stal uit: groot belangstelling
By nuwe Trading Post
Wat begin het as ‘n idee om ‘n klein kunsuitstalling saam met een of twee ander kunstenaars by haar huis op Moorreesburg te hou, het nou so uit sy nate gebars dat hul 250 gaste verwag by vanaand se opening van die groepuitstalling by die Trading Post op Koringberg.

Christine Koch span saam met nog vier Moorreesburg-kunstenaars wat in verskillende media werk.
Naas Koch se kuns, kan besoekers aan die uitstalling wat tot Sondag 27 September duur, uitsien na die werk van Chantal Pieters, Gerhard Louw, Maré Louise Smit en Petro Rust.

Chantal Pieters beskryf haarself as ‘n “fine art photographer“.
“Gewortel in die rustige landskappe van Moorreesburg” is sy “aangetrokke tot die dramatiese kontraste en gedurig veranderende lig van die Swartland en sy omgewing.” Sy skep treffende swart-wit beelde met skerp kontras.
Ek het self geleer en “laat my lei deur emosie, eerder as die onderwerp. My werk streef daarna om die rou, abstrakte skoonheid wat onder die oppervlak lê, vas te vang.”
Christine Koch werk hoofsaaklik met olieverf, houtskool, pastelle en waterverf.
Haar werk spruit voort “uit ‘n diep belangstelling in mense, hul lewensverhale en die emosionele wêrelde wat onder die oppervlak bestaan”.
Met ‘n agtergrond in sosiologie en sosiale antropologie benader sy haar werk “met ‘n sensitiewe waarnemingsvermoë en ondersoek dit wat gevoel, maar nie uitgespreek word nie.
“Hierdie perspektief word gevorm deur ‘n lewenslange betrokkenheid by sowel kuns as menslike gedrag.” Skilder, sê sy, was deurgaans deel van haar lewe, naas haar rolle as opvoeder en moeder.
In haar werk streef sy daarna “om empatie, deernis en menslike verbondenheid te bevorder.”

Gerhard Louw, predikant by die NG Kerk op Moorreesburg, vertel “kuns is deel van my leef.
“Ek fokus die laaste paar jaar meer op pen en ink sketse maar geniet ook olieverf- en waterverf-werk. Ek het vir Swier geteken en ook wynreekse se etikette vir Darling Kelders geteken.
“Kuns het self in my lewe opgedaag toe ek begin studeer het, in 1992. Ek kon nie uit die kunsafdelings in die Bib wegbly nie. Ek het begin teken en daarna het olie- en waterverf gevolg. Van toe af is dit deel van my lewe. Kuns is altyd speel, en in besonder speel met die lig.”
Maré Louise Smit is op Moorreesburg gebore en woon sedertdien in die Swartland. Hoewel sy veral bekend is as beeldhouer en keramiekkunstenaar, het sy met uiteenlopende genres en mediums soos klip, hout, hars en papier-maché geëksperimenteer om haar vaardighede te verfyn. Haar mees onlangse genre is abstrakte skilderkuns, “wat haar innerlike wêreld weerspieël deur sielkundige spanning te skep deur middel van kleurgebruik en merkvorming, met beelde as ‘n tussenganger.” Sy het reeds aan verskeie solo- en groepuitstallings deelgeneem, en haar werk is in private versamelings in Suid-Afrika en Europa opgeneem.
Laaste voorbereiding vir groepuitstalling
Petro Rust vertel sy het ’n groot liefde vir mense en hul unieke stories.
“Ek werk hoofsaaklik in houtskool, potlood, waterverf en ink as mediums van uitdrukking. Ek geniet dit om emosie, karakter en die fyner besonderhede (‘detail‘) deur my werk vas te vang.
“Ou boekpapier en patroonpapier vorm dikwels deel van my kreatiewe proses en gee my kunswerke ’n unieke tekstuur en karakter. Deur verskillende materiale en tegnieke te kombineer, skep ek kuns wat betekenisvol en persoonlik is.”
Kuns van ‘n paar jong kunstenaars van Moorreesburg sal ook deel van die uitstalling uitmaak.
Die uitstalling word geopen deur Esté van die musiekgroep RAAF. Sy sal die belangrike rol “van kuns vir ons psige in die wêreld waar ons vandag leef, toelig”.

Die Trading Post is op die hoek van Hoof- en Sonopstraat. Die uitstalling duur tot Sondag 27 September. Dit is daagliks oop vanaf 09:00. Tot 14:00 op Woensdag en Vrydag; tot 16:00 op Donderdag (Erfenisdag) en Saterdag en tot 13:00 op Sondag.
