Inwoner (81) vier 50 parkruns
‘n Bekende Swartlander en jarelange inwoner van Moorreesburg, Jeanette Mostert, het Saterdag op 81 haar 50ste parkrun op Malmesbury voltooi.
Sy het op 79 haar eerste parkrun afgelê en nog nie weer teruggekyk nie.
Mostert, wat ‘n gereelde gesig is Saterdagoggende by die Malmesbury parkrun (haar tuisklub/”homerun”) het ook al dié 5km-wedlope op Langebaan, Tulbagh, Melkbosstrand, Franschhoek, Groenpunt, Strand, Yzerfontein, Paarl en Route 44 buite Stellenbosch voltooi.
Die deelname aan dié wedlope, vertel Mostert, het vir haar ‘n nuwe wêreld en gemeenskap ontsluit waar ouderdom nie saak maak nie.
Ter viering van haar 50ste wedloop het Mostert die deelnemers by Malmesbury Saterdagoggend verras met heerlike koek.
Mostert het met dié courant gesels en vertel van haar besluit om aan die parkrun te begin deelneem.
Sy sê sy het nooit voorheen aan wedlope deelgeneem nie, maar is “net lief om elke oggend ‘n ent te loop.
“Ek het gehoor van parkrun en besluit om deel te neem.
“Dit was ‘n nuwe uitdaging en ek het uitgesien om in die natuur te loop en om ander mense te ontmoet.
“Intussen, vertel sy, het sy “werklik baie lieflike vriende gemaak en die mooiste natuur geniet soos die Malmesbury renosterbossies, die bloekombos en die wingerde met die mooi berge op die gesigseinder.”
Gepols oor haar wenke aan ander Swartlanders van haar ouderdom om op dié ouderdom so mooi en fiks te bly, antwoord sy: “Ek het nie eintlik die antwoord nie, maar dink dit is om positief te wees, gesond te eet, nooit ‘n grief teen enigiemand te hê nie, altyd iets nuut te wil leer en net altyd jouself te wees.”
Mostert het onlangs in die Strand die “vader” van die parkrun in Suid-Afrika en wêreldberoemde marathonatleet, Bruce Fordyce, ontmoet.
Fordyce het die parkrun-konsep in 2011 in Suid-Afrika geloods nadat hy dit by Bushy Park in Londen gesien het.
Dié konsep, verduidelik Fordyce, hou baie voordele in vergeleke met ander hardloopbyeenkomste.
Dit kos deelnemers geen geld nie.
Daar is geen registrasiefooie of lisensienommers nie.
Dit is oop vir alle ouderdomme.
Dit vind plaas in ‘n veilige omgewing, weg van gevaarlike paaie.
Hardlopers hoef nie aan ‘n klub te behoort nie.
Dit is altyd vyf kilometer lank en dit vind altyd op ‘n Saterdagoggend om agtuur plaas.
Malmesbury se parkrun begin en eindig voor Die Bos in Baroccastraat (agter Hoërskool Swartland se sportvelde).
Voornemende deelnemers kan registreer by www.parkrun.co.za/register