Malmesbury maak reg vir 2019 se skou-aksie
Die bestuur van Malmesbury Skou is kliphard aan die werk om die terrein slaggereed te kry en laaste relings te tref vir die jaarlikse skou wat aanstaande week van 24 tot 26 Oktober plaasvind.
Soos elke jaar is daar die immergewilde afdelings en ‘n paar opwindende nuwe toevoegings om te verseker die aanbod voorsien in elke smaak.
Die perdeprogram met meer as ‘n 100 klasse sluit klasse vir die gewilde Saalperde, SA Vlaam, Walliese Ponies en SAR-afdelings in. Die perdeprogram begin die Donderdag om 09:00 en duur tot 13:00. Die tye vir die arenaprogram vir Vrydag is 08:30 tot 18:30 en Saterdag van 08:00 tot 17:00.
Die Jeugskou vind weer die Donderdagmiddag plaas en die jong deelnemers wys hul slag in die hantering van skape, bokke, beeste en hoenders. Die Jeugskoue het die laaste klompie jare landwyd ‘n oplewing beleef en is ook baie gewild by Malmesbury Skou. Vir inskrywings, kontak Zuna Koen by 078 070 2968.
Die skou skop eintlik reeds Woensdagaand 23 Oktober af met ‘n ABBA Damesaand vanaf 18:30. Die deurwinterde Mike McCully en sy groep, Mike McCully & the Harmonix, sal die ABBA-musiek verskaf. Kaartjies @R200 is beskikbaar by Jeanette Orchard (071 643 5805). Daar is kosstalletjies en ‘n kontantkroeg.
Donderdag se program word afgesluit met ‘n Moedskep Burger-aand vanaf 19:00 by Patat se Gat.
Vrydagaand is dit weer die gewilde Steak-ete en Dans vanaf 19:00. Vanjaar sal Wynand Windpomp & Manie, Mirandi (SA Idols-finalis) & DJ Kaalkop die musiek maak. Die kaartjies kos R180 per persoon en daar is ‘n kontantkroeg (Geen eie drank).
Saterdag
Naas die perdekampioenskappe die Saterdag, is daar ook die Wes-Kaapse Boerboel-klubskou vanaf 09:30. Skakel Wesley Leukes by 078 456 6803 vir meer inligting.
Vir die jongspan is daar ook vermaak met toesig in die kindertent vanaf 09:00 Dit sluit springkastele, ponieritte, ‘n inkleurhoekie, gesigverf en vele eer in.
Om 11:00 is daar ‘n poppekas met ‘n Jan-en-die-Boontjierank-verwerking en om 14:00 is daar ‘n vertoning van ‘n Rooikappie-en-die-wolf-verwerking.
Die middagete-program sluit ‘n troutrekkompetisie om 13:00 asook veteraanvoertuie en ‘n valskermvertoning deur Mother City Skydiving in.
By Patat se Gat is daar vanaf 12:00 tot laat musiekoptredes deur gewilde kunstenaars.
Sam & Calla tree van 12:00 tot 13:45 op, gevolg deur Gert Zandberg van 14:00 tot 15:45, Die Rooiwynprofeet van 16:00 tot 17:45, Christo Lotz van 18:00 tot 20:45 en Plan B-orkes van 21:00 tot 00:00.
Die toegangsfooie vir vanjaar se skou beloop R50 vir volwassenes en R20 vir kinders tussen 3 en 18 jaar. Daar is ook binne-parkering beskikbaar @R20.