3de Botmaskloof-baken geskuif
Die derde en laaste oorblywende monument wat op Botmaskloofpas gestaan het, het nou ook ‘n rusplek by die Riebeekvallei Museum (voorheen De Oude Kerk) op Riebeek-Kasteel gevind.
Die Pieter Cruythoff-monument is in1961 deur prof. H.B. Thom onthul met die herdenking van Cruythoff en sy geselskap se reis oor die berg op 4 Februarie 1661.
Die Ons Taal- en Van der Stel-monumente is aanvanklik onderskeidelik op 14 Augustus 1975 en 8 Oktober 1985 opgerig en albei is sedertdien na die museumperseel in die dorp verskuif. Dit is nie bekend waarom die Pieter Cruythoff-monument nie toe ook verskuif is nie.
Luidens ‘n inskripsie voor die Van der Stel-museum het padverleggings in 1991 die eerste verskuiwing van die Pieter Cruythoff- en Ons Taal-monumente genoodsaak.
Intussen is daar vroeër vanjaar by Wes-Kaap Erfenis aansoek gedoen dat die Pieter Cruythoff-monument verskuif kan word en het dié organisasie, ná sy aanvanklike afkeuring, op 18 September die appèl gehandhaaf vir die verskuiwing.
dié courant het by erfeniskonsultant Chris Murphy navrae gedoen.
Hy het die volgende inligting saamgestel.
Die geselskap onder leiding van Pieter Cruythoff het op 4 Februarie 1661 ‘n nek aan die oostekant van die berg (nou Kasteelberg genoem) bereik op hul ekspedisie na die noorde na Monomotapa.
Hulle het, volgens die dagboek van Pieter van Meerhof, allerhande diere in groot getalle raakgeloop. Dit het leeus, renosters, sebras, volstruise en hartebeeste ingesluit.
Op
4
Februarie het hy “13 sebras, vyf renosters, ‘n paar volstruise en
duisende hartebeeste” opgeteken. Hulle het ook van die plaaslike
inwoners teëgekom.
Die volgende aand teen die rivier (Bergrivier)
het ‘n seekoei hul kamp besoek. Daar was ook jakkalse wat die hele
nag geskree het.
En 24 jaar later het Simon van der Stel ‘n ekspedisie na die noorde onderneem. Hy het op 30 Augustus 1685 die volgende in sy dagboek aangeteken: “Ons het om ‘n heuwel getrek tot ons die voet van ‘n berg genaamd Riebeeck’s Casteel, bereik het. Daaronder het ‘n pragtige vrugbare vallei voor ons gestrek gevoed deur ‘n rivier.”