Droom-boomhuis om 50 j. oue baobab gebou
Dit is een van die heel beste goed wat nog ooit met Riebeek-Wes gebeur het.
Hierdie woorde is vanoggend by die opening van die nuwe Riebeek Valley Garden Centre deur talle gaste aan dié courant ge-eggo.
“Dit gaan ‘n bestemming word. Dis ‘n wonderlike plek,” het Zakkie Bester gesê.
Dié nuwe ontwikkeling sluit die unieke Boomhuis-gallery, ‘n koffiewinkel/restaurant Krem a Tart, Die Vink Nes (snuisterye en ander interessanthede), KarooSpens, Doringrosie (dekor en geskenke) asook Just Gorgeous-salon in.
Die eienaars, André Beaurain and Corné Pretorius, vertel dat dit hulle droom is wat waar geword het. Die droomkweekhuis het begin met die boom van die boomhuis.
Dit is eerste geplant -vier jaar gelede nog voor daar enige fondasie gegrawe is.
Die Boomhuis se boom, ‘n kremetart, is uniek en presies 50 jaar oud.
Dit aard eintlik nie in die Wes-Kaap nie en is sover bekend een van slegs twee wat in beheerde omstandighede groei. Die ander een is in Kirstenbosch.
‘n Kremetartboom kan nie die koue winters hanteer nie, vertel Beaurain .
Dit het later gevrot en toe omgeval.
“Toe ons dit 5 jaar gelede raakloop by ‘n kwekery, het dit plat gelê. Hulle moes die vrot alles uitkrap en dit skoon maak. Toe is dit in ‘n klein sakkie geplant en gelukkig het dit weer gebot.
“Ons het die boom hiernatoe gebring en hom in Augustus 2015 hier geplant.”
Die hoofgebou is om die boom ontwerp. Alles in die nuwe gebou, behalwe die sement en stene, sê Beaurain, is herwin.
Só bestaan die hele glasdak uit ou yskasdeure van Coca-Cola.
Die unieke voordeur weer is meer as 400 jaar oud en dateer uit ‘n tyd voor Jan van Riebeeck na die Kaap gekom het.
Hy vertel dit kom uit ‘n klein Spaanse dorpie want eintlik nie meer bestaan nie en in daardie jare ‘n groot Moslemgemeenskap gehad het.
Vandaar die twee grootte klopringe (“knockers”) op elke kant. Die gebruik was dat ‘n man met die groot swaarder klopring sou klop en dat die inwonende vroue dan sou weet hulle moet hul boerka dra as hulle die deur oopmaak. Die kleiner klopringe is deur vroue gebruik.
Pretorius het by die opening van die sentrum almal wat bygedra het tot die projek bedank en ook al die gaste vir hul teenwoordigheid.