Matthysen dra nou Groen Meestersbaadjie
Ernest Matthysen is die Swartland RSAM Meesterskampioen vir 2019 nadat hy vandag dié kompetisie op die Malmesbury Gholfbaan gewen het met 43 punte.
Matthysen het die twee rondtes van 9 putjies op ‘n winderige dag met 85 houe voltooi. Hy het 25 punte oor die eerste rondte aangeteken en 18 oor die tweede rondte.
Nadat hy die Groen Baadjie van 2018 se Meesterskampioen, Saberie Pietersen, ontvang het, het Matthysen die borge en klubbestuur bedank vir hul bydrae tot die geleentheid. Hy het vertel dat hy Donderdag ook gespeel het en aansienlik swakker gevaar toe hy ‘n 100 houe nodig gehad het om die twee rondtes te voltooi.
Daar was twee eerste pryse – vir die wenner van die dag en vir die Meesterkampioen. ‘n Speler kon slegs aan die Meesterskampioenskap deelneem as hy of sy ‘n kompetisie vroeër in die jaar gewen het. Matthysen het albei pryse ontvang.
Die ander kampioene sedert die Meesterskompetisie in 2013 ingestel is, is Johann Ackerman, Amos Schreuder, Peter Willemse en Piet Basson.
In die tweede plek vandag, ná ‘n uittel, was Maurice Carr wat soos Elton Fester (3de) 42 punte aangeteken het.
Philip Faure van RSA Makelaars wat die kompetisie in 2013 geloods en sedertdien die borg was, het die klub bedank vir hul bydrae en die toestand waarin die baan was vir die dag.
Hy het die medeborge en sy personeel bedank vir hul reuse-bydrae tot die sukses.
Faure het bygevoeg dat dié meesterskonsep nou reeds goed gevestig is by die klub en in die streek en dat dit vanjaar RSAM se laaste jaar as hoofborg was.