Cederberg Brandvereniging ‘gereed vir die brandseisoen’
PORTERVILLE – Die Groter Cederberg Brandbeskermingsvereniging (GCBBV) het onlangs ’n brandgereedheid-inligtingsessie aangebied vir die 2019/2020-brandseisoen.
Dié organisasie het in ‘n verklaring gesê die Wes-Kaap het die afgelope vier jaar lae reënvalsyfers gehad en al is talle onder die indruk dat goeie reën in die Weskus-area geval het, toon reënvalsyfers dat dit wel laer was as verlede jaar.
“Vooruitskouings dui op kenmerkende warm en droë toestande wat voorlê en dat ‘n baie besige brandseisoen verwag word.
“Grondeienaars en gemeenskappe is gemaan om te verseker dat dit veilig is en dat die perseel voldoen aan die wetlike vereistes. “Identifiseer die risiko-areas of plekke waar brande kan ontstaan, versprei of skade veroorsaak en neem stappe om dié risiko’s te beperk..
Die Weskus Distrikmunisipaliteit se brandweerhoof, Bertus Senekal, het ’n beroep gedoen op inwoners om onmiddellik die Beheersentrum (022 433 8700) te kontak sodra daar rook gewaar word.
“Die eerste uur van ’n vuur is die belangrikste. Dis daarom belangrik dat die regte kanale gevolg word sodat daar so gou as moontlik deur die Brandweer reageer kan word.”
Francois Weyers van Kishugu Aviation wat verantwoordelik is vir die verskaffing van die lugondersteuning, het ’n beroep op grondeienaars gedoen om hul versekering in orde te kry en die nodige dokumentasie (MOU-vorm vir lug ondersteuning) te voltooi en aan die GCBBV-kantoor te stuur. Hierdie metode word aanbeveel om baie tyd te bespaar gedurende ’n brand.
Die lugondersteuning kan nie ontplooi word na ’n brand sonder die voltooide vorms nie.
Die Groter Cederberg Brandbeskermingsvereniging se vernaamste doelwit is om brande te beperk deur die toepassing van geïntegreerde brandbestuur, eerder as om dit te bestry.
“Ons help egter ons lede en vennote met brandbestrydingoperasies. Dis belangrik vir lede om ook ten alle tye te verseker dat hulle personeel en vuurtoerusting in gereedheid is, sodat hulle van hulp kan wees met brande.
“Dis belangrik om vuurlyne na ’n vuur te monitor. Veiligheid van personeel tydens brandbestrydingsoperasies is van kardinale belang.”
Werk vir Vuur (WOF) is ’n inisiatief van die regering om brandbestrydinghulpbronne aan plaaslike belangegroepe beskikbaar te stel om behulpsaam te wees met voorkomende aksies en om te help met brandbestryding.
Daar is tans twee WOF-spanne onder die bestuur van die GCBBV.
Kontak ook gerus die GCBBV by 022 931 2083. Die webtuiste is www.cederbergfpa.co.za of besoek hul Facebook-blad vir meer inligting.
Rapporteer brande by 022 433 8700.