LatestSports

Swartland se Top 12-spanne laat vure hoog brand

Ná twee minder suksesvolle naweke vir die Swartland se verteenwoordigers in Boland Rugby se Top 12-kompetisie het die vure vir Wesbank en Abbotsdale Saterdagaand hoog gebrand.
Beide spanne het hul tuiswedstryde gewen.

Wesbank het verras en die verdedigende kampioen, Saldanhabaai, wat ook onlangs in die Gold Cup deelgeneem het en voor die naweek nog onoorwonne was in vanjaar se Top 12, getroef. Die Koringboere het die kragmeting met 29-28 gewen en is tans met agt punte, drie agter die twee voorlopers in groep B, Safcol en Saldanhabaai.
Geen spanne in enige van die twee groepe het tot dusver al hul wedstryde gewen nie en kan dus geklop word. Met 2 kragmetings oor is die pad na die uitspeelwedstryde vir die Swartlandse spanne egter steeds steil.
Dié streek se ander span, Abbotsdale, het Saterdag op hul beurt ‘n skittervertoning teen Delicious Noordwes gelewer, al het die besoekers in die tweede helfte goed teruggeveg. Lillies het die kragmeting met 38-21 gewen.

Bevan Abrahams (links) is as Speler van die Wedstryd aangewys.

Abbotsdale is steeds tweede laaste in hul groep en met vyf ligapunte lê hulle agt en sewe punte onderskeidelik agter die groep se voorlopers Hawston (13 punte) en Roses United (12 punte).
Lillies speel die komende Saterdag om 15:00 weg teen Vredenburg. Laasgenoemde het die afgelope naweek verras om die sterk Hawston in hul eie vesting tot ‘n gelykopuitslag te dwing.
Wesbank speel op hul beurt ook die komende naweek weg. Hul kragmeting teen Invincible van Vredendal is ook vir 15:00 geskeduleer.

Leave a Reply

error: Content is protected !!