Latest

10jr Buite-ekspo lok weer groot aantal besoekers

Die jaarlikse kykNet Buite-ekspo wat die naweek op Môreson suid van Tierfontein aangebied is, het oudergewoonte duisende besoekers gelok.
Dit is vanjaar die ekspo se tiende bestaansjaar en dit was die sewende keer wat die ekspo op dié terrein gehou is nadat dit voorheen op Swellendam aangebied is.
Daar is ook jaarlikse een in Limpopo. Dit vind weer die naweek van 31 Julie tot 2 Augustus by Sondela buite Bela-Bela plaas.

Die ekspo in die Swartland het verlede jaar meer as 20 000 besoekers gehad. Die amptelike syfers vir vanjaar sal eers later bekend wees.
“Dit is moeilik om in hierdie stadium oor getalle te praat omdat ons op die amptelike syfers wag,” het organiseerder Marius Opperman van Trio Events aan dié courant gesê.
“Desondank die feit dat ons vanjaar heelwat meer skaduweeruimte geskep het met ekstra sambreelareas en ‘n vergrote familievriendelike kroegarea, kon die warmer weer Saterdag ‘n impak op die syfers gehad het.
“Maar die terugvoer tot dusver van veral groter uitstallers is dat hulle ‘n suksesvolle naweek gehad het.”
Opperman sê dit bly ‘n uitdaging om in die huidige ekonomiese klimaat ‘n geleentheid van hierdie omvang aan te bied.
“Daar is egter na my mening verskeie faktore wat die ekspo gewild en suksesvol maak”.

Hy het die borge, vennote, mediavennote en ‘n groot verskeidenheid uitstallers van “goeie buitelewe-produkte, asook die baie goeie venue” as van die belangrikste boustene vir dié sukses uitgesonder.
“Natuurlik moet die titelborg kykNET uitgesonder word vir hul reuse-bydrae om die ekspo moontlik te maak.”

Omdat buitelug-uitstalspasies vanjaar vroeg reeds vol was, is daar ekstra ruimte geskep om meer uitstallers as voorheen te akkommodeer.
“Te oordeel aan die navraag, is dit duidelik dat daar steeds ‘n groeiende buitelewemark is en dit bied aan mense in hierdie tye ‘n wegbreek van die gejaagde lewe.”
“Ons het weer nuwe komponente en een of twee eksperimentele wysigings aan die konsep en program aangebring en dit lyk of dit gewerk het.”
Die organiseerders het ook nie die geleentheid laat verbygaan om in samewerking met kykNET en Jimmy’s Steakhouse Sauces ‘n groot “Celeb-verjaarsdag-jol” aan te bied nie.

Akteurs van Arendsvlei en Suidooster het gehelp om die verjaarsdagtafel te berei met die hulp van die bekende Chef Tommy.
Hamilton Wessels was die seremoniemeester vir dié deel van die program.
Nadat die hoof van kykNET, Karen Meiring, Saterdag die organiseerders geluk gewens het met die ekspo en aan besoekers vertel het waarom kykNET by ‘n geleentheid soos dié betrokke is en só nader aan die gemeenskap kom, is die ekspo amptelik geopen deur die Wes-Kaap se minister van landbou, dr. Ivan Meyer.

Gewilde kunstenaars het die gaste ook die hele naweek vermaak op die Hankook-verhoog terwyl daar verskeie geleenthede vir 4×4-ervarings op die terrein aangebied is saam met volop aktiwiteite vir kinders.

Leave a Reply

error: Content is protected !!