Latest

Yzerfontein straks 1ste Swartlandbuurte met vesel

Bykans nege jaar nadat die ondersese WACS-kabel in 2011 in Yzerfontein aan wal gebring is, kan dié dorp nou die eerste een in die Swartland word waar ‘n woonbuurt vir optiese vesel-toegang aangeskakel kan word.
Die nuwe optiese vesel-netwerk is egter onverwant aan die WACS (West Africa Cable System)-kabel, wat destyds met berigte van gratis internet vir Yzerfontein gepaard gegaan het.

Die diensverskaffer Frogfoot het vandag aan dié courant bevestig dat hul met konstruksie begin het om die optiese vesel na die eerste sektor/fase/buurt in Yzerfontein uit te rol.
Ian Hendricks van Frogfoot sê hulle het ná onderhandelinge met die Swartland Munisipaliteit (SM) die toestemming gekry om te begin lê aan die oop netwerk in Yzerfontein.
Dit beteken Frogfoot verskaf die infrastruktuur en in hulle geval is daar “nagenoeg 80 internet diensverskaffers gelys deur wie inwoners hul optiese vesel internettoegang kan koop”.

Hendricks sê die dorp is in tien fases verdeel en die konstruksie van die eerste fase sal vanaf die hoofnodus by die NG Kerk begin.
Die volgende fases sal dan volg. Soos die fases voltooi word, word die toegang aangesluit en sal daardie buurt se inwoners toegang hê.
Hendricks sê die ooreenkoms met SM is dat hulle die proses ná die eerste klompie fases sal evalueer voor daar toestemming vir die oorblywende fases gegee sal word.
As alles volgens plan verloop, sê hy, sal die eerste huise binne die volgende drie maande van die vinnige optiese vesel gebruik kan maak.
Die “nagenoeg 80 internetdiensverskaffers” bied ‘n verskeidenheid pakette aan.

So byvoorbeeld beloop die maandelikse koste van die bekende diensverskaffer Afrihost se onbeperkte pakket vir ‘n 10 megagrepe per sekonde aflaaispoed en 10 megagrepe per sekonde oplaaispoed R587 per maand; 20 megagrepe per sekonde aflaaispoed en 2 megagrepe per sekonde oplaaispoed R657 per maand en 50 megagrepe per sekonde aflaaispoed en 5 megagrepe per sekonde oplaaispoed R777 per maand.
Hendricks sê die beplanning is om die hele Yzerfontein se veselkabel-netwerk van ongeveer 64km lank binne ‘n jaar te voltooi.
Die netwerk sluit ook ‘n “gratis komponent in vir die munisipaliteit waardeur die owerheid in die toekoms met die sogenaamde slimmeters sal kan kommunikeer”.

Leave a Reply

error: Content is protected !!