LatestSchools

Jong gegradueerde (17) kom praat oor hulp met wiskunde

Daar word in baie oorde gepraat oor die wiskunde-onderrigstelsel en veral die algehele uitkoms daarvan wat baie kinders en studente nie behoorlik voorberei op dit wat universiteite en loopbane van hul vereis nie.
Dit word selfs in kringe as ‘n wiskundekrisis beskryf.

Navorsing het aangedui dat 77% van leerders in Suid-Afrika die vak wiskundige geletterdheid neem, wat nie toegang tot enige kursus in ingenieurswese, tegnologie of wetenskap op ná-matriekvlak bied nie.
Só het dr. Petro Erasmus, ’n opvoedkundige sielkundige en akademikus by die Noordwes-Universiteit (NWU) luidens ‘n skrywe van dié universiteit gesê.
“Die graad 12-uitslae vir wiskunde in 2018 het getoon dat 245 103 leerders die finale eksamen geskryf het, vergeleke met 265 810 in 2016 – ’n daling van meer as 20 000,” sê sy.
“Van hierdie leerders het slegs 51,9% ’n punt van meer as 30% in die eksamen behaal.
“Dit is ontstellend om te sien dat amper 128 000 leerders ’n punt van minder as 30% vir hierdie eksamen behaal het.
“Die slaagpunt van 30% is in elk geval onrealisties laag. ’n Leerder wat 30% behaal het, kan beswaarlik beskou word as iemand wat die vak bemeester het.”
‘n Oud-Swartlander Hjalmar Rall was op 14 die jongste student ooit wat deur Tukkies toegelaat is om vir ‘n Fisikagraad in te skryf.
Hy het verlede jaar die graad voltooi en doen nou op 17-jarige ouderdom sy honneurs in Fisika.
Rall skryf sy sukses met sy studies toe aan die regte wiskundeonderrig.


Na aanleiding van ‘n onlangse berig deur dié courant (https://diecourant.co.za/2020/01/07/jong-rall-van-riebeek-kry-bsc-in-fisika-op-17/) oor Rall se akademiese sukses, het dié courant met sy onderwyser en pa, Heinrich Rall, gesels.

Rall sr. sê dit is primêr wiskunde en die ononderhandelbare vermoë wat kinders met begeleiding moet ontwikkel om werklik abstrak te kan dink.
Om ‘n bydrae tot die gemeenskap te lewer op dié gebied en ouers en kinders in te lig oor die moontlikhede om beter toegerus te word, is daar besluit om ‘n inligtingsessie in Malmesbury te hou om ouers van gr. 8- en gr. 9-leerlinge in te lig oor moontlikhede.
Daar word beoog om ‘n realistiese en oplossinggedrewe blik op die situasie te gee.

Hjalmar Rall

Hjalmar sal uit sy perspektief as universiteitstudent verduidelik wat die invloed van ‘n swak wiskunde-agtergrond op sy medestudente het en hoe sy wiskundevoorsprong hom gehelp het.
Heinrich sê hy was ook onlangs betrokke by die saamstel van ‘n moontlike oplossingsplan in Gauteng en sal die perspektiewe prakties deel.
Hy sê dat daar wel ‘n oplossing is en dat daar met die nodige ondersteuning van die gemeenskap ‘n Wiskunde-suksesverhaal geskryf kan word.

Die bedoeling is nie om teen enige huidige bestel of wiskundehulp te werk nie, maar eerder om ouers en kinders te help om ‘n beter wiskundetoekoms vir hul kinders te skep, veral as hulle verder wil studeer.
Hy gaan ook redes toelig oor studente met onderskeidings in matriek wat nie suksesvol op universiteit is nie.
Daar sal ook geleentheid wees om vrae te stel.
Ouers van die hele Swartland en omliggende dorpe word genooi om die sessie by te woon.
dié courant as ‘n gemeenskapdiens wil op dié manier ‘n platform help skep om ‘n daadwerklike verskil te maak deur die ondersteuning van ‘n projek wat van stapel gestuur kan word om die hele gemeenskap se wiskundevaardigede uit te bou tot ‘n vlak wat internasionaal deure vir studente kan oopmaak.
Raak deel van die oplossing ook vir jou kind.
Kom woon hierdie GRATIS sessie by op Donderdag 27 Februarie om 19:15 in die NG-gemeente Swartland-Noord se saal in Bergzichtstraat, Malmesbury.
Die verrigtinge sal ongeveer ‘n uur duur met tyd vir vrae na afloop van die sessie.
Dit is BELANGRIK om te RSVP op die aangehegte vorm vir getalle-doeleindes.

https://docs.google.com/forms/d/e/1FAIpQLScVJGlXfEMvUeESx_-zIM9RvZACxhDZwnAJuiBuFKL_QTYAMw/viewform?usp=sf_link

Leave a Reply

error: Content is protected !!