Dirkie Uys wen T20-wedstryd van voorlaaste bal
Getrou aan die aard van ‘n T20-krieketwedstryd was die kragmeting tussen die eerste krieketspanne van die Hoërskool Dirkie Uys en Hoërskool Swartland vandeesweek op laasgenoemde se tuisveld tot voor die voorlaaste bal vam die wedstryd nog in die weegskaal.
Dit was ‘n derderonde-wedstryd in die landwye Coca-Cola T20-skoletoernooi.
Die tuisspan het eerste gekolf en 124 lopies en só aan die besoekers die teiken van 125 gestel.
Dirkie Uys moes ses lopies van die laaste boulbeurt slaan en het met die voorlaaste bal die wedstryd beklink met nog vyf paaltjies staande.
Hulle het so na die volgende ronde gevorder waar hulle Saterdag op Stellenbosch teen Boishaai te staan sal kom.