Latest

Swartland se eerste ouetehuis vir plaaswerkers

Die eerste klein ouetehuis vir plaaswerkers kan eersdaags in die Swartland gebou word met ‘n loodsprojek van die Goedgedacht Trust in die Riebeeksriver.
dié courant het met die nuwe besturende direkteur van Goedgedacht, dr. Deon Snyman, gesels.

Goedgedacht het reeds die eerste R1,3 miljoen ingesamel vir die outehuis op die plaas wat teen ‘n totale koste van R1,6 miljoen 12 inwoners sal kan huisves.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van die beplande ouetehuis

Snyman, wat laat in 2019 die posisie as besturende direkteur by Goedgedacht opgeneem het, sê Peter Templeton en sy vrou, Anne, het uitgetree.
“Ek moet nou groot skoene vol staan. Dit is legendes wat nou afgetree het. Peter is ‘n trustee en help nog met fondswerwing.”

Snyman vertel hy is opgelei as ‘n teoloog en “het vir baie jare in Zulu-gemeentes gewerk in die noorde van Kwa-Zulu Natal. Toe het ek daarna vir ‘n organisasie in Kaapstad gewerk wat fokus op geregtigheidsake.
“Ek woon nou op die plaas en is verantwoordelik vir al die verskillende projekte en administrasie.”
“Ons visie by Goedgedacht is om florerende plattelandse gemeenskappe te skep.
“Ons het programme waar ons kinders help van voor geboorte tot hulle 23 jaar oud is.

“Een van die dinge wat ons agtergekom het in ons werk is dat daar ook ‘n behoefte is vir plaaswerkers wat afgetree is.
“Toe het ons besluit ons wil graag iets bou sodat dit ook ander boere miskien kan inspireer om dieselfde te doen.”
Snyman vertel hul is vennote met Pieter du Toit van Kloovenburg en “hy ondersteun die projek baie sterk.
“Hy het ons ook gehelp met ‘n spesiale gala-aand op 24 Maart met Pieter-Steph du Toit en ‘n paar ander WP-spelers en Springbokke om die R300 000 in te samel.”
Dit word as ‘n baie spesiale geleentheid beplan. “Ons maak reg vir 100 mense teen R3 000 per kaartjie.”
Die ouetehuis is klein en sal vir die omgewing wees. Daar sal 12 plekke wees.
“Ons wil net iets begin wat dalk kan inspireer en dat ander plase dalk kan leer uit die foute wat ons maak. Daar gaan beslis foute gemaak word.
“Dat dit kan bydrae tot die vestiging van dié gedagte. In hierdie tyd wat die kwessie van grond ‘n baie kontensieuse saak is. Ons wil positiewe dinge doen – positiewe energie bou eerder as negatiewe energie tap.
“Dit is ‘n proeflopie. Daar is baie van dié ouetehuise op dieselfde model in Kaapstad, maar nog nie in die platteland nie.

“Inwoners sal bydra met hul pensioen met die koop van kos en so aan. Dit gaan ‘n proses wees waar hulle nog in ‘n groot mate hulle eie ding kan doen. Hulle sal hul eie huiskomitee hê en daar sal ‘n bestuurder vir die eenheid wees,” sê Snyman.
“En ons sal met verloop van tyd sien tot watter mate ons addisionele fondse moet bewerkstellig, maar die gedagte is dat dit selfversorgend moet wees.

Leave a Reply

error: Content is protected !!