Willemse lig Uproot en tema van verplasing, verlies toe
Die jongste uitstalling Uproot van die bekroonde konseptuele kunstenaar, Emma Willemse, is tans te sien by The Gallery op Riebeek-Kasteel.
Die uitstalling met ontworteling en verplasing as tema duur tot 1 Maart en Willemse het Saterdag tydens ‘n sogenaamde “walkabout” haar werk en die storie daaragter toegelig.
Sy vertel dat haar belangstelling in verplasing en ontworteling spruit uit haar eie ervaring van die verlies van verskeie huise in die negentigerjare.
Dit vorm ‘n onderliggende tema in baie van Willemse se verskeidenheid kunsvorme/media.
Sy het ook navorsing gedoen oor die impak van verplasing/verlies van ‘n mens se huis op die psige van daardie mens en tot die gevolgtrekking gekom dat dié traumatiese ervaring van verlies lei tot verlies van onthou en identiteit.
Willemse, wat ‘n meestersgraad in visuele kuns aan Unisa verwerf het, het begin werk met die oorblyfsels van opgekapte blokkiesvloere en hoe dit as’t ware die huis en die inwoner se voetspoor verteenwoordig.
Sy het die blokkies van die opgebreekte vloere van ‘n huis waar sy gewoon het in ‘n groot projek gebruik en ook kunsboeke begin maak waar sy van die oorblyfsels van blokkiesvloere vir onder meer die omslae gebruik.
Die kuns om kunsboeke te maak het só ontwikkel – ontvou – dat sy later die vloeroorblyfsels binne-in die boeke – groot en klein – begin gebruik het as deel van die konsertinablaaie.
Willemse vertel dat sy spesifiek die onderkante van die vloere gebruik vir hul unieke kenmerke en unieke hegtingsmerke.
Sy het meer onlangs begin om die navorsing oor verlies ook uit te brei na omgewingsverlies wanneer byvoorbeeld ‘n boom ontwortel word en die impak daarvan.
Sommige ontwortelde bome is “visueel fantastiese beelde, maar ‘n boom wat ontwortel word, kan nooit fantasties wees nie.
“So ‘n ontwortelde boom is die verlies van ‘n hele ekologiese omgewing.”
Willemse sê sy los in haar kuns doelbewus ruimte om dit aan elkeen oor te laat vir hul persoonlike interpretasie vanuit persoonlike ondervinding.
Die uitstalling bestaan uit die handgemaakte kunsboeke, kunsdrukwerk met dieselfde tema, digitale afdrukke sowel as skilderye.
Willemse bied weer op Saterdag 29 Februarie om 11:30 ‘n “walkabout” aan.