'n Kykie in die ParlementFEATURED

Sony of SONA – Parlement is almal se Huis

Swartlander en Lid van die Nasionale Parlement, asook die DA se skaduminister vir vervoer, koukussweep en hul kiesafdelingshoof vir Bergrivier skryf:

Die glimlag op my gesig as die woord SONA (State Of the Nation Address) genoem word, het te doen met ‘n Casper de Vries-grappie vanuit die eerste dae van ons televisie-ervarings.
Dit was in die 1970’s en verstaan mooi dit het met stryd en weerstand gepaard gegaan.
Almal was nie geneë met die idee van ‘n televisie in elke huis nie. Tot só ‘n mate dat etlike leraars nie geskroom het om hul Sondagpreek, selfs reekspreke, hieroor aan te bied nie. Casper verwys na die handelsmerk SONY (uitgespreek: “sou-nie”) as hy die persoonlike stryd en innerlike wroeging oor televisies wil deel: “Ons SONY, maar toe het ons.”
Behalwe vir mode-huise wat met die SONA-okkasie maande vooruit wedywer vir ‘n plekkie aan iemand se lyf en om met eksotiese skeppings dalk op die skerm te kom met die Amptelike Parlementsopening, vind heelwat ander werk wél plaas voor die groot dag.
En (toegegee) wat sittings en menige besluitneming betref, etlike sake en prosesse moet geduldig wag tot ná SONA en die Begrotingsrede wat kort daarna plaasvind.
Baie ambassades, konsuls, besigheidsorganisasies, stigtings en strukture hou dan ook as’tware ‘n soort ‘afskop’-funksie gedurende hierdie tydperk. As ons dan laataand ná elkeen van hierdie formele verrrigtinge die eerste voertuie bereik in die parkeerblok, is dit ‘n redelike algemene gesig dat die hoëhakskoene verruil word vir plakkies, want prag ken mos nie pyn nie.
Hierteenoor is daar virseker ook ‘n ander kant.

Soveel kostes en uitgawes?

Vir baie mense lyk SONA soos onnodige uitgawes en fabel. Ernstige vrae soos: Is dit alles nodig? Soveel kostes en uitgawes? Dra dit werklik by tot die vermindering van al ons nood en kwessies? Dit, te midde van huidige swak finansiële prestasie en stagnante ekonomiese groei?
Ons praat van miljoene rande wat dalk êrens nood kon verlig en dringende finansiële gate kon toestop. Ja, onnodige spandabelrigheid, veral in die lig daarvan dat SONA 2020 ‘n tweede swierigheid is binne agt maande, want in Junie 2019 is R2,6 miljoen geblaas op dieselfde rooitapyte, kamera’s en toesprake. Eintlik op 13 Februarie 2020 is drie maal meer uitgegee as verlede jaar, want daar is elke jaar ‘n Parlementsopening en verlede jaar ook nog die Opening van die Sesde Parlement (ná 1994).
Op hierdie vrae gaan ek beslis nie my hand opsteek om te antwoord nie, want kan jy ooit te midde van soveel nood ‘n rooimat-gedoente teen sulke uitgawes regverdig.

Siya Kolisi, Zozi Tunzi en…

Ek dink tog ook aan oomblikke tydens SONA waar ek uit my bank opkyk gallery toe waar feitlik geen sitplek oop is nie – entosiastiese gesigte, opgewonde en baie gesprek, ook Siya Kolisi, Zozi Tunzi en nog bekendes, drie vorige staatspresidente met gades, sake-leiers, ambassadeurs, familie en vriende van kollegas, ook myne.
Op skerms in “Die Huis” sien ons wat buite aangaan, peloton na peloton wat die saluut ontvang van die President en met militêre orkes-begeleiding statigheid en amptelike status gee.
Voordat die President inkom vir sy openingsrede, donderende kanonsalute, ‘n soniese verbyvlug en dan oomblikke later sing ek saam aan die Volkslied en ek voel trots want die okkasie met al sy rooitapyt-harlekyn-geit het tóg betekenis in my hart.
Dit dra by tot iets wat baie mense nie sal verstaan nie, miskien later – soos toe bitter-einders te midde van baie sosiale druk vasgebyt het en vir baie lank geweier het om ‘n televisie te koop (miskien het Willem-hulle nou al ‘n SONY).
Gesigte in die gallery wat na ons in die banke afkyk as betrokke getuies van gebeure.

Almal se Huis

Vir etlike dae lank sien ons trotse selfies op Twitter en Facebook.
Dit moet betekenis hê – Parlement behoort immers aan die Mense – insluitend die rooitapyt, slap karre, hoëhakskoene tot by die plakkies – Parlement is almal se Huis.
Vir ons wat deur ‘n stembus die voorreg ontvang het om ander te kan verteenwoordig, vir ons het hiermee die werk begin, al dink party: “Ja, nou eers, 44 dae diep in 2020” vir jou het ek nou tóg ‘n antwoord: “Ons SONY, maar toe het ons” (smile).
*Hunsinger is ‘n onafhanklike rubriekskrywer en die inhoud van sy skrywes weerspieël nie noodwendig die siening en beleid van dié courant nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!