Nuwe NWO-toerismeplan vra R2m van Swartland M
Die nuwe toerismeplan wat aan die Swartland Munisipaliteit (SM) voorgelê is vir goedkeuring, sluit ‘n nuwe nie-winsgewende maatskappy (NWO) en groter befondsing van die owerheid in.
Dit sal dan die huidige struktuur vervang.

Twee konsultante, Martin Janse van Vuuren en Francois Viljoen, wat deur die SM aangestel is om ‘n plan op te stel, het dit gister aan rolspelers in die plaaslike toerismesektor en munisipale komitees toegelig.
Die plan se begroting sluit ‘n kontantbydrae van R2 miljoen deur die plaaslike owerheid plus bestaande bydraes en borgskappe aan instansies soos die Bergrivier Kanomarathon en museums in.
In die huidige boekjaar beloop die kontantbedrag wat aan die Swartland Toerisme-vereniging toegeken is, R820 000. Dit sluit die salaris van een dorp se toerismebeampte uit.
Bykomend tot dié fondse, maak die plan voorsiening vir ledebydraes en daar kan dan ook werwing van fondse vanuit die private sektor gedoen word.

Die nie-winsgewende maatskappy se direksie sal, volgens die plan, bestaan uit ‘n verteenwoordiger van elke dorp, die Swartland Wyn- en Olyfroete, die SM en verteenwoordiging uit die private toerismesektor.
Die res van die struktuur moet volgens die plan ‘n algemene toerisme-bestuurder met uitgebreide bemarkingskennis asook twee of drie streekbemarkers en moontlik ‘n administratiewe beampte insluit.
Volgens die voorlopige plan wat voorgelê is, sal bykans 70% van die aanvanklike begroting aan salarisse bestee word en ongeveer 25% aan bemarking en projekte.
Dit sluit R35 000 vir brosjures, R85 000 vir feeste en geleenthede, R75 000 vir drukmedia, R45 000 vir sosiale media, R100 000 vir bemarkingsveldtogte en R50 000 vir toeroperateur-inligtingsprojekte in.
Die munisipaliteit se direkteur vir korporatiewe dienste, Madelaine Terblanche, het op die terugvoervergadering gesê as die nuwe plan goedgekeur word, sal dit na alle waarskynlikheid in die 2021/22 boekjaar van stapel gestuur word.