News

Leer hoor wat kunstenaars sê – Spittal by nuwe gallery

Elke keer as ons ‘n kunstenaar se werk koop, koop ons ‘n deel van hul siel.
Só het Mike Spittal gisteraand gesê by die opening van die nuwe keramiekgalery en studio, So Clay, op Riebeek-Kasteel.
Spittal is nou betrokke by die finansiering van dié projek en was ook betrokke by die Clay-uitstalling op Solo Studios in 2019. Hy het Li Nepgen uitgesonder en bedank vir haar rol in beide projekte.
Hy het gesê dikwels hoor jy mense oor kuns sê: “Ek kan dit ook doen.
“Dan sê ek vir hulle, wel, probeer dit gerus.

“Daarom het ons die grootste respek vir die kunstenaarsgemeenskap en daarom ondersteun ons hulle al lank.”
Ons moet leer om te hoor wat kunstenaars deur hul werk sê en só met ons praat, het hy bygevoeg.
Hy het met ‘n algemene opmerking afgesluit: “Delf diep in jou siel. Vind daardie gees wat jou dryf. Skep met jou hart en rond dit af met tegniese uitnemendheid.”
So Clay is in Short Street geopen en sal die werk huisves van plaaslike keramiekkunstenaars waaronder Nepgen, Andries Dirks, Mariette Gregor, Julia Buss en Garth Meyer. Dit sal ook dien as studio vir Dirks en as perseel vir keramiekklasse.

Dirks het met dié courant gesels en vertel hoe dankbaar hy is vir die geleentheid om nou voltyds kunstenaar te wees.
“Ek het hier grootgeword en later 13 jaar van my lewe in die gevangenis gemors vir aanranding en moord.
“Maar nou is ek positief en het oor die jare geleer om die woede te bestuur.”
Hy het as kind met modderklei gespeel en figure gemaak.
In sy jare in die gevangenis het hy in vaardigheidsprogramme weer met pottebakkery en keramiekbeeldhouwerk begin.
Sedertdien het hy vir ‘n paar jaar by Goedgedacht gewerk en daar het sy pad met dié van Nepgen gekruis toe sy keramiekklasse aangebied het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!