Herboude Swartland-Hospitaal geopen
Ons hoop om oor ‘n paar jaar ‘n splinternuwe provinsiale hospitaal in Malmesbury te sien.
Só het die Swartland se burgemeester, Tijmen van Essen, vanoggend gesê by die opening van die herboude Swartland-Hospitaal waarvan ‘n gedeelte 3 jaar gelede met ‘n brand in puin gelê is.
Die plaak vir die herboude fasiliteite is deur die Wes-Kaap se minister van gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, en van Essen onthul.
Die burgemeester het gesê die munisipaliteit het reeds die grond vir dié hospitaal op die ou vliegveld terrein langs Darlingweg beskikbaar gestel.
By vanoggend se verrigtinge het personeel weer die brand en trauma van 18 Maart 2017 in herinnering geroep en vertel hoe die gemeenskap van Malmesbury asook die munisipaliteit en ander staatsdepartemente en hospitale saamgewerk het.
Die brand het die relatief nuwe noodsentrum, sale asook die teater en ‘n vertrek met pasiëntrekords in puin gelê.
Stories van ‘n dokter wat met ‘n bejaarde pasiënt op sy rug deur ‘n venster na veiligheid spring tot bejaarde mense en medepasiënte wat ander pasiënte op beddens na die NG Swartland-Noord-gemeente se kerksaal stoot.
Personeel het vertel hoe daar gespook is om pasiënte so spoedig moontlik in ander hospitale op te neem en dat die volgende oggend om 01:00 bevestig kon word dat elkeen van die meer as 70 pasiënte reeds elders opgeneem en versorg is.
Lynn Spieringshoek, direkteur van infrastruktuurontwikkeling van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, het die Swartland Munisipaliteit vanoggend geloof vir hul hulp, ook om te verseker dat die restourasie- en bouproses, wat in 5 fases verdeel is, nie vertraag word nie.
Sy het gesê daarsonder sou die fasiliteite nie vandag reeds geopen kon word nie.
Die laaste afrondingswerk van fase 3 – die noodsentrum, word tans gedoen.
Die totale koste van die projek se vyf fases, wat ook twee groot sale vir vroue en mans insluit, beloop R130m.
Die burgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit, Harold Cleophas, het ook gesê die streek sien uit na die dag as ‘n splinternuwe hospitaal gebou kan word.
Hy het ook die gebeure van 18 Maart in herinnering geroep en gesê: “Wat ons daardie dag gesien het, wil ons nie weer in die toekoms sien nie. Dit was nie ‘n mooi gesig nie. Ek is dankbaar vir almal wat daardie dag gehelp het en hand bygesit het om die vuur te blus.
“Ná die brand het die mense van die Swartland gedink hulle gaan ‘n nuwe hospitaal kry, maar dit het ongelukkig nie gebeur nie. Ons is steeds bly en dankbaar oor die nuwe/of opgegradeerde fasiliteite. Ons kan nou weer die volle diens vanaf hierdie hospitaal ontvang.”
Cleophas, ook voorsitter van distrik se gesondheidkomitee, het die personeel bedank “wat in hierdie tyd onder groot druk besondere geduld aan die dag moes lê terwyl die konstruksiewerk gedoen is. Toe kom Covid-19 en het selfs nóg meer druk op hulle en die fasiliteite geplaas.
“Ons is trots op die personeel. Hulle het die hele Swartland trots gemaak.”
Mbombo het bygevoeg dat die provinsie by die nasionale owerheid aansoek gedoen het vir fondse om ‘n nuwe hospitaal te bou, maar dat dit afgekeur is. Ook die aansoek om die hospitaal te herbou, is afgekeur en toe moes die provinsie self aanpassings aan begrotings doen om die projek vanuit eie hulpbronne te befonds.
Dr. Joshua Brownbridge (kliniese bestuurder) het gesê die finale afronding aan die nuwe teater word ook tans gedoen en dat dit volgens plan in Desember in gebruik geneem sal word.
Die nuwe buitepasiënte-eenheid vir kraamgevalle is onlangs in gebruik geneem.
“Ons kan hier nou weer terugkeer na die vlak van dienslewering wat ons kon bied voor die brand.”
Die hospitaal sal nou 85 beddens huisves.
Dr. Barry Smith, die voormalige hospitaalbestuurder ten tye van die brand, het ook vertel van die persoonlike ervaring van verlies met die brand en hoe die gemeenskap en ander departemente hande geneem het om die krisis te hanteer.
Ook die verplegingshoof, Pearl Robyn, het vertel hoe sy die Sondag van die brand van elders moes inry en van die verligting toe sy met haar aankoms hoor al die pasiënte is veilig.
Jeanné Spamers, nooddiens subdistrikbestuurder, het ook haar ervaring van die aand van die brand gedeel. “Die wonderlikste ding van daardie aand was: Als het net gewerk. Al is daar stelsels in plek, is daar nooit werklik ‘n geleentheid om só ‘n noodplan te toets nie. Eers as so iets gebeur, kan ons sien of en hoe dit regtig werk.”
Sy het vertel dat verpleegpersoneel ook pasiënte deur venster na veiligheid gebring het. Dat sommige eers toe hulle met pasiënte ‘n blok verder by die kerksaal aankom, hulle besef het hul skoene is half weggebrand en brand steeds.
Die EMS-ambulansstasie het tydelik die kraamsaal geword en een ma het in daar in die gang geboorte geskenk.