LatestNewsSports

Porterville laat Abbotsdale swoeg vir sege

Die eerstespan van Abbotsdale wat Saterdag gasheer gespeel het vir die besoekers van Porterville, moes hard werk om hul rugbykragmeting naelskraap te wen.
Die wedstryd was propvol opwinding en met die tuisspan nog onoorwonne tot dusver in die liga, sou hul moeilik op tuisturf geklop word.
Porterville het egter ander planne gehad en het met skitterende spel die Lillies uit die staanspoor onder druk gehad. Die besoekers se voor- en agterspelers het goeie samespel bewerkstellig en Abbotsdale se verdediging ’n paar keer oopgekloof.

Porterville het die bal die praatwerk laat doen en ná goeie kreatiewe spel is hul met die eerste drie van die wedstryd beloon.
Met beter afronding in die eerste helfte sou die besoekers met rustyd veel verder as 12-3 kon voorloop.

Die span van Abbotsdale wat Saterdag vir Porterville naelskraap kon klop.

Ná die blaaskans sou dit ’n groot terugvegpoging van die Lillies verg om in te haal en die die wedstryd in hul guns te swaai. Die afrigtingspan van Abbotsdale is toe genoop om veel vroeër as beplan hul ervare plaasvervangers Eschel Josias, Sheldon Appollis en Wium Syster op die veld stuur.
Hierna het Lillies se voorspelers stelselmatig die oorhand begin kry en kon die tuisspan beter gebiedsvoordeel geniet.

Ná volgehoue druk is die heelagter Draigh Schierhout oor vir ’n drie om die telling 19-15 te maak in die guns van Porterville.
Met vyf minute speeltyd oor het Abbotsdale weer die doellyn oorgesteek om vir die eerste keer die voortou te neem in die wedstryd.

Bradwin Faro was uitstaande vir Porterville.

Porterville het egter nie gaan lê nie en met ’n minuut speeltyd oor is Porterville se agterlyn weer deur Abbotsdale se verdediging. Met ’n oop doellyn verbrou die besoekers egter ’n gulde geleentheid wat die wedstryd in hul guns sou swaai.

Die Lillies het die kragmeting gewen met 20-19, maar Porterville kan meer as tevrede voel met hul vertoning teen een van die liga-gunstelinge.
Abbotsdale reis komende Saterdag na Riebeek waar hul teen die span van Good Hopes te staan kom. – (Henrich Robertson, mediabeampte)

Leave a Reply

error: Content is protected !!