LatestNewsSchools

RVSS, Anne Pienaar bekroon vir skooltuinsuksesse

Die belangrikheid van gesonde voeding vir leerders en die breër gemeenskap is gister op Riebeek-Wes beklemtoon op ‘n inligtingsdag oor skooltuine.
Die gasheer, Riebeekvallei Spesiale Skool, het vroeër die uitsonderlike prestasie behaal en vir die derde keer met die louere weggestap in die A-afdeling van die provinsiale kompetisie wat onder die vaandel van die Nasionale Skoolvoedingsprogram (NSVP) aangebied word.
Die provinsiale program word deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gekoördineer.

Die Riebeekvallei Spesiale Skool se tuin word deur hul waarnemende adjunkhoof, Danté Pelser, bestuur. Hy onderrig ook landbou as ‘n vak by die skool.
Pelser het die twee tuiniers, Johnathan Malgas en Johnny Asja, uitgesonder as die steunpilare vir hul tuin wat in totaal bykans 2 hektaar beslaan.
Hy het vertel van hoe nou hul met die privaatsektor saamwerk en die ondersteuning wat die skool in dié verband uit die sakegemeenskap ontvang. “Die een hand was die ander.”

Die Riebeeck Vallei Spesiale Skool se waarnemende adjunkhoof Danté Pelser en skoolhoof Ricardo Rickett.

Hulle het ook in 2015 reeds die Premierstoekenning ontvang vir die bes geïmplementeerde program.
Die tema van die dag was “Gesonde plante, gesonde mense”.

Die tekort aan die nodige gesonde voeding, het Lindelwa Sopotela van die NSVP gesê, is sigbaar in die groei onder baie leerders.
Sy het bygevoeg dat minder as 70% van skole in die provinsie tans al groentetuine het en “ons wil hê almal moet tuine vestig”.
Sy het die Riebeeck Vallei Spesiale Skool gelukgewens met hul eerste plek. Die skool se wengeld is R25 000.

Loandri Van Wyngaardt van Anne Pienaar Gedenk Primêr

Nog Swartlandse skool Anne Pienaar Gedenk Primêr in die Paardeberg het tweede in die B-afdeling van die kompetisie geëindig. Dié tuin wat deur Loandri Van Wyngaardt behartig word, het prysgeld van R15 000 losgeslaan.

By die geleentheid was dr. Hadley Bastiaan (WKOD Weskus), Ricardo Rickett (Skoolhoof Riebeeck Vallei Spesiale Skool), Elizabeth Nimrod (Irista Primêr), Danté Pelser (Riebeeck Vallei Spesiale Skool), Paulett Apollis (Departement Openbare Werke), Rendani Murovhi (Departement Landbou), Madri Schuch (Y4Life), Denver Walbrugh (Kringbestuurder WKOD Weskus), Verity Barnes (Riebeeck Vallei Spesiale Skool), Nombulelo du Plessis (Murraysburg Primêr), Loandri Van Wyngaardt (Anne Pienaar Gedenk), Lindelwa Sopotela (NSVS), mnr. L. Ayford (Riebeeck Vallei Spesiale Skool), Michael Gama (NSVS) en dr. S. Addey.

Van Wyngaardt het gesê hulle wil die kinders inspireer om nie net hul eie tuine tuis te vestig nie, maar ook om hul ouers en die res van die gemeenskap aan te spoor om groentetuine te maak en entrepreneurs te wees.
“Die kinders leer van die konsep van grond tot tafel en ook die maak van kompos en om so min as moontlik weg te gooi.”
Volhoubaarheid is een van die doelstellings van die NSVP.

Pelser het vertel dat hulle ‘n groot verskeidenheid produkte uit die skool se tuin oes. Dit word in die skoolkoshuis gebruik en soms ook saam met die leerders huis toe gestuur. Dit is belangrik dat die kinders self die voordeel van hul werk in die tuin kry, het hy bygevoeg.
Onder die produkte wat geoes word tel olywe wat by Goedgedacht en Olive Boutique verwerk word. Die olyfolie lewer ook ‘n goeie finansiële opbrengs.
Nog een van die sprekers, Rendani Murovhi van die Department van Landbou se kantoor op Malmesbury, het gesê daar is ‘n tekort aan jeug in die landbou. “Ons moet ook die kinders leer om meer as net plaaswerkers te wees. Ook entrepreneurs.” Sy het bygevoeg dat almal ‘n verpligting het om agente vir verandering te word en by te dra tot die nasionale kosmandjie en voedselsekuriteit.

Leave a Reply

error: Content is protected !!