Abbotsdale, Wesbank skop af in top-posisies
Ná ‘n kort blaaskans, skop Swartlandse klubrugbywedstryde in die Boland Grootuitdaagliga weer komende Saterdag af.
In die Swartland hou Abbotsdale en Wesbank nog die twee boonste plekke op die punteleer warm.
Al is hulle tans die spanne om te klop is die sake eintlik nog wawyd oop en kan Darling, Good Hopes, Never Despair en ook Moorreesburg met nuwe vorm nog die kaarte kom deurmekaar krap.
Abbotsdale reis Saterdag na Porterville terwyl Wesbank ook weg speel. Laasgenoemde pak Riebeek-United.
Darling (tans derde op die punteleer) het die meeste bonuspunte (10) in die eerste ronde verdien gevolg deur Good Hopes (8) en Wesbank (7). Die span van Darling het dié naweek ‘n loslooitjie en só ook Villagers Wittewater.
Good Hopes onvang Saterdag besoek van Moorreesburg en Never Despair speel tuis teen die besoekers uit Saron.
*Die twee Swartlandse spanne in die Weskusliga, Piketberg en Koringberg, kon in die eerste ronde nooit werklik aan die gang kom nie en beklee tans die laaste twee plekke op die punteleer. Piketberg het 3 van hul 9 wedstryde gewen en Koringberg moet nog ‘n wedstryd wen.
Hulle kom Saterdag onderskeidelik (weg) teen Langebaan en (tuis) teen Vredenburg te staan.