Ansuné Basson slaggereed vir 5de “Berg”
Wanneer die roeiers Woensdagoggend in die Paarl wegspring op die Bergrivier Ultrakanomarathon oor 4 dae, sal Swartlander Ansuné Basson ná goeie voorbereiding slaggereed wees vir ‘n aanslag op haar beste posisie nóg in dié wedvaart.
Basson vertel aan dié courant sy was nie in een van haar vorige vier ‘Berge” só goed voorbereid vir dié uitmergelende wedvaart oor 240km as vanjaar nie.
Dié boorling van Malmesbury het in elkeen van haar deelnames verbeter, gemeet aan die tydsverskil met die algehele wenner.
Haar eerste deelname was in 2015, gevolg deur 2016, 2019 (saam met haar oom en ervare spanmaat Petrus Crous) en weer verlede jaar.
In 2015 het Basson ‘n tyd van 26:37:25.20 aangeteken. Dit het aan haar die 6de plek in die vroueafdeling besorg met die algehele wenner, Hank McGregor, se tyd op 18:41:52.33.
Sy was in 2016 die 5de vrou by die eindpunt met ‘n tyd van 25:03:34.03. McGregor was weer die algehele wenner (17:37:39.55).
In 2019 het sy en Crous in spanverband deelgeneem en hulle het tweede geëindig in die afdeling vir gemengde pare.
Verlede jaar was Basson se tyd 24:22:21.04 met McGregor (weer die algehele wenner) op 18:41:05.07. Dit was ook Basson se beste algehele posisie in die 48ste plek.
Die watervlak van die Bergrivier het grotendeels gestabiliseer nadat dit vroeër vandeesmaand volgens berig word op plekke die 100 jaar-vloedlyn bereik het.
Die rivier se vloei in die Paarl is op 15 Junie gemeet op 690 kumek (kubieke meter per sekonde) en 4,4 meter diep. Dit het intussen afgeneem tot 21 kumek vanoggend en 0,7m diep.
By Sonquasdrift is die vloei op die 18de Junie aangeteken op 313 kumek met ‘n diepte van meer as 4,8 meter. Die vloei was vanoggend 151 kumek en 2,5m diep.
Basson vertel sy het reeds vroeg in die jaar ernstig met haar voorbereiding begin.
Sy is lid van die Paarl Kanoklub en het begin oefen saam met ‘n span “wat my baie geïnspireer het”. Roeiers vir wie “dinge nie altyd alles so goedgunstig was nie, maar wel die sport gekies het vir ‘n deurbraak”.
Dié professionele argitektekenaar vertel sy het ook die geleentheid gehad om aan platwater-wedvaarte deel te neem en “my intervalle en verpligte oordra te oefen.
“Vanjaar is ek verseker beter af, as voorheen. Só groei ‘n mens in karakter – fisies en geestelik.”
Dít is ook duidelik in haar suksesse in die “Berg” se voorbereidingswedvaarte die afgelope maand.
Basson het in die Wellington-Hermon-wedvaart ‘n tweede plek verower en dié posisie herhaal in die Hermon-Gouda-wedvaart.
Die afgelope Saterdag het sy die ander vroue uitgestof en eerste geëindig in die Gouda-Bridgetown-kompetisie.
Oor die vooruitsigte vir die “Berg 2023” sê Basson: “Ek het ‘n rustigheid in my vir die water – hoe dit sal wees.
“Ons het vloedwater nou gehad wat ons baie teruggehou het met veiligheid in gedagte.
“Dan by tye het ons die groter water aangedurf. Met al die opdrifsels verander die gevaarliker areas tussen Hermon en Bridgetown baie.
“Ek weet dit gaan steeds ‘n harde tyd wees op die water – selfs net om die 240km klaar te maak, maar ek is baie gelukkig om my beste te kan gee. Net omdat ek geseënd is om gesond te kan wees.
“Ek leer baie by ander roeiers dat alles moontlik is, as jy daarop gefokus bly.”
Basson sluit af dat sy graag vanjaar die vrugte van die harde werk sal wil pluk en eindig sy “wie weet dalk iewers op ‘n baie goeie plek.”
Die roete:
Dag Een – Woensdag 5 Julie (62km)
Markstraatbrug, Paarl tot by Zonquasdrift
Paarl kanoklub na Lady Loch-brug: 16km
Lady Loch-brug na Skooltjie: 6,6km
Skooltjie na Grensplaas: 9,4km
Grensplaas na Hermon: 5,4km
Hermon na Zonquasdrift: 16,9 km
Dag Twee – Donderdag 6 Julie (46km)
Zonquasdrift tot by Bridgetown
Zonquasdrift na Gouda-brug: 16.1km
Gouda-brug na Treinbrug: 14.4km
Treinbrug na Drie Heuwels-wal: 9.1km
Drie Heuwels-wal na Bridgetown: 6.1km
Dag Drie – Vrydag 7 Julie (75km)
Bridgetown tot by Zoutkloof
Bridgetown tot Misverstand dam: 16km
Misverstand dam na Moravia: 15.7km
Moravia na Soetdraai: 3,9km
Soetdraai na Klipheuwelbrug: 16,8km
Klipheuwelbrug na Zoutkloof: 22,4km
Dag Vier – Saterdag 8 Julie (57km)
Zoutkloof tot by die eindpunt in Velddrif
Zoutkloof na Bergrivierstasie: 10,9km
Bergrivierstasie na Kersefontein: 5,5km
Kersefontein na Kliphoek (Oordraplek): 30,4km
Kliphoek na Riviera Hotel (Eindpunt): 9,7km