Solo Simfoniekonsert propvol eerstes
Wanneer die klanke van nuwe opdragmusiek spesiaal gekomponeer vir Solo Simfonie op 20 Augustus die NG Kerkgebou op Riebeek-Kasteel vul, sal daar in baie opsigte geskiedenis gemaak word.
Vir die eerste keer – met Solo Studios 2023 – sal ‘n volle simfonie-orkes (die Wynland Filharmoniese Orkes) in dié gebou waarvan die hoeksteen 110 jaar gelede in 1913 gelê is, gehoor word.

Vir die heel eerste keer ook sal die plaaslike Steelband, wat oor die laaste 25 jaar ‘n instelling geword het om by geleenthede op te tree, ook in dié gebou speel.
En vir die eerste keer sal dié twee orkeste musiek saam uitvoer – ‘n nuwe overture gekomponeer deur Kristi Boonzaaier asook verwerkings deur Boonzaaier van musiek wat die Steelband reeds talle kere alleen uitgevoer het.
Solo Simfonie is vanjaar een van die nuwe toevoegings tot Solo Studios en beloof om dié naweek (nou reeds ‘n instelling op die Suid-Afrikaanse kunsdagboek) propvol beeldende kuns, wynkuns, koskuns, woordkuns, kunslesings en kortfilms – op ‘n hoogtepunt af te sluit.

Die Wynland Filharmoniese orkes met sy meer as 50 lede staan onder leiding van stigter Reghardt Kühn.
Hy vertel dat hy met verlede jaar se Solo Studios-naweek die vallei saam met Boonzaaier besoek en die Steelband sien optree het. Net daar het hy gesê hy sal eendag saam met hulle wil optree. En nou word dit bewaarheid.
Kühn het met musiek grootgeword en in sy laaste skooljare op Empangeni in die Natalse Jeugorkes gespeel. Hier het sy liefde vir musiek en die rol wat dit in gemeenskappe kan speel, vlamgevat.

Hy het met blaasinstrumente soos die eufonium en tromboon begin, sy BMus- en MMus-grade aan Stellenbosch Universiteit verwerf en is deesdae nie net orkesleier van die Wynland Filharmoniese orkes nie, maar ook musiekonderwyser by Paarl Boishaai en lei ook die skool se blaasorkes.
Solo Studios is naas die unieke en eksklusiewe kunservaring wat dit besoekers jaarliks bied, ook van die eerste jaar in 2016 nou betrokke met bydraes aan die gemeenskap met die Riebeekvallei Steelband, ‘n gemeenskapsprojek onder leiding van David Wickham, as een van die begunstigdes.

Wickham vertel hy het die Riebeekvallei Steelband 25 jaar gelede begin kort nadat hy en sy gesin na die Swartland verhuis het.
Die huidige orkes is reeds die vierde “weergawe” en oor die jare het meer as ‘n 100 jong kinders uit veral die armer gemeenskappe hul musiektalent in dié orkes uitgeleef.
Intussen neem die behoefte aan steelbands in die vallei toe en is daar nou reeds nóg drie steelbands onder sy leiding – dié by die For Life Centre, Hermon en Môrester/Ebenezer – met ‘n verdere een ook in die pyplyn.
Wickham vertel die verskil wat dit in die kinders se lewens maak, is waarneembaar. Hulle gee ook nie om waar hulle speel nie, solank hulle kan speel.

Vir Solo Simfonie is dit nou kliphard oefen aan die nuwe, verwerkte en bestaande musiek.
Kühn sê sy doel met die Wynland Filharmoniese orkes, waarvan verreweg die meeste lede in ander beroepe staan en in die orkes speel as deel van hul passie, is om klassieke musiek meer toeganklik te maak en die halwe stigma dat dit te styf en te formeel is, weg te kalwe.
Hy wil ook die musiek na die mense en gemeenskappe bring wat andersins nie daartoe toegang het nie. Die orkes speel veral musiek wat nie so baie gehoor word nie.

By Solo Simfonie kan gaste onder andere uitsien na werke wat aansluit by die tema van die visuele kunste soos die Rus Modest Mussorgsky se Pictures at an exhibition.
Daar is ook die geniale Fransman Camille Saint-Saëns se Danse macabre met ‘n vioolsolo deur Eriel Huang.
Kaartjies vir die Solo Simfoniekonsert is beskikbaar op die webwerf www.solostudios.co.za
