Tomis-transaksie kan “meer werksgeleenthede bring”
Pick n Pay het aangekondig dat hulle ‘n transaksie beklink het om 100% van die sakebedrywighede van die Tomis-groep van maatskappye te koop.
As die nodige regulatoriese goedkeurings verkry word, sal die abattoir-groep met hul aanleg buite Hermon vir ‘n aansienlike bedrag aan Pick n Pay verkoop word.
Tomis, wat in 1993 gestig is, is ‘n moderne abattoir-, vleisverwerking en verpakkingsbesigheid wat lamsvleis- en beesvleisprodukte aan groothandelaars en kleinhandelaars, insluitend Pick n Pay, verskaf.

Die sleutelbates, luidens Pick n Pay se aankondiging, sluit onder andere ‘n 15 000 m² onderdaklamvoerkraal en die lam- en beesabattoirs op die plaas van 140 hektaar in.
Die Tomis-groep het ongeveer 320 werknemers.
Pick n Pay sê die verkryging sal die groep se varsvleisaanbieding aan klante aansienlik verbeter.
Onder meer ‘n “hoër gehalte, meer konsekwente, rooivleisaanbod en ’n verlaagde koste vir rooivleis, wat die vermoë ontsluit om klante groter waarde te bied”.
Tomis se besturende direkteur, Laurie Terblanche, sal by die groep aanbly.
Die verkryging, soos in Pick ‘n Pay se aankondiging ook gemeld, bly onderhewig aan ‘n aantal opskortende voorwaardes, insluitend die relevante regulatoriese goedkeurings (Mededingingskommissie en ander).

dié courant het Terblanche gevra oor die impak van dié voorgenome transaksie op werksgeleenthede asook die impak op hul rooivleisprodusente.
Hy het produsente bedank vir jare se ondersteuning en samewerking en hul ook verseker die besigheid gaan aan soos voorheen. Oor werksgeleenthede sê Terblanche as die transaksie deurgevoer en goedgekeur word, is dit baie positief vir die gemeenskap met groeiplanne wat beslis meer werksgeleenthede insluit.

*Die Tomis-groep is vanjaar 30 jaar oud. Die naam Tomis is afgelei van die voorname van TOMmy en ISabelle Moolman.
Met die 20ste verjaarsdag het Tommy Moolman (toe besturende direkteur) vertel van die begin – “met ‘n beskeie 4-skaap-per-dag-onderneming”.
“Ons buig in nederigheid en dankbaarheid voor ons Skepper en gee aan Hom die lof, eer en dank.”
Hy het ook die lesse wat hul in die eerste 20 jaar geleer het, uitgelig:
- Dat integriteit, eerlikheid en etiese waardes die basis moet wees waarop jou besigheid gebou moet word.
- Dat ons van die begin af besef het, sukses is nie om buitengewone prestasies te behaal nie, maar om die gewone dagtake met buitengewone toewyding te vervul.
- Bou brûe in die lewe – indien jy brûe afbreek, sit jy later op ‘n eiland.
- Dat die enigste plek waar sukses voor werk kom, in die woordeboek is!
- Dat sukses ‘n reis is en nie ‘n bestemming nie,
- Dat om die beste te wees ten opsigte van kwaliteit en diens, ononderhandelbaar in die vleisbedryf is.