Solo Studios ’23 sluit For Life-sentrum in
.
Promosie
Teruggee aan die groter gemeenskap was vanuit die staanspoor een van die oogmerke van die stigters van Solo Studios in die Riebeekvallei. Dié naweek raak sedert die ontstaan in 2016 jaarliks meer gewild in kunskringe.
Dié voorneme het nog elke jaar gestalte gekry in onder meer skenkings aan gemeenskapsprojekte. Een van dié meer onlangse begunstigdes is die For Life-sentrum. Vanjaar van 18 tot 20 Augustus neem Solo Studios dit nog verder met die insluiting van beide die Riebeekvallei Steelband (https://diecourant.co.za/2023/06/28/solo-simfoniekonsert-propvol-eerstes/) en die herwinningskuns van For Life-sentrum op die amptelike program.
Besoekers kry die geleentheid om dié kuns en die skep daarvan binne-in eerstehands te sien.
Mark Graham-Wilson en geesgenote het die For Life-sentrum verlede jaar op die been gebring as ‘n gemeenskapsentrum vir kuns en geestesgesondheidshulpbronne met individuele persoonlike groei, gemeenskapsopheffing en -ontwikkeling, versoening en sosiale samehorigheid as oogmerk.
For Life streef daarna om ‘n toevlugsoord te bied, veral vir jongmense, waar hierdie doelwitte vervul kan word deur betekenis en doel te ontdek.
Graham-Wilson is ‘n deurwinterde en bekroonde akteur, regisseur en vervaardiger wat die afgelope 42 jaar in verskeie hoedanighede aktief betrokke is op die Suid-Afrikaanse verhoog, skerm en televisie. Dit sluit in die rolle van artistieke direkteur van Generations, hoofskrywer van Scandal!, Binnelanders, Fishy Fêshuns en regisseur van Isidingo en 7de Laan.
Dit sluit ook in A Midsummer Night’s Dream, Hamlet, The Comedy of Errors, OPDRAG: Ingrid Jonker, I Was King, Fiela’s Child – The Musical en vele ander.
‘n Groot deel van sy werk was ook onderrig in die bedryf.
Die For Life-sentrum het aanvanklik als vanuit een perseel gedoen, maar die direksie het besluit om die onderskeie aktiwiteite eerder by satelliet-venues binne-in die gemeenskap aan te bied.
Daar is naas ‘n nuwe jong steelband by die POP (Path Onto Prosperity)-sentrum op Riebeek-Wes, onder andere ‘n leesgroep en kunsklasse daar, ‘n gewilde maandelikse Poetry Jam, hip-hop dansklasse asook ‘n erfenisgroep op Riebeek-Kasteel.
Die herwinningskunsklasse is ‘n unieke konsep waar Nico Rens, ‘n gekwalifiseerde binneshuise ontwerper en terapeut in helende massering, jongmense skool in die gebruik van rommel vir kuns.
Rens, ‘n boorling van die Oos-Kaap, vertel hy werk met drie ouderdomsgroepe – elkeen met 20 kinders.
Hierdie kunswerke, waarvan verskeie kandelare (Trashlights) reeds deur talle huiseienaars aangekoop is, het ten doel om nie net die jong kunsstudente te skool en te lei in selfwaarde en hul van herwinning bewus te maak nie. Rens vertel die idee is om dit sodanig uit te bou sodat van die studente later ‘n bestaan uit dié herwinningskus kan maak.
Tydens die Solo Studios-naweek sal die kuns op uitstalling wees en besoekers sal ook die geleentheid kry om die jong kunstenaars in aksie te sien by die POP-sentrum waar hulle dié kuns skep.
Kaartjies en meer inligting oor Solo Studios 2023 is beskikbaar op die webwerf https://solostudios.co.za/.