Pictorex dien kunsgemeenskap – ook met Solo Studios
In die hartjie van die Swartland lê ‘n dorpie… om Elizabeth Fourie buite konteks aan te haal, want sy het destyds eintlik oor Malmesbury geskryf.
Die dorpie nou ter sprake is Riebeek-Kasteel, saam met die tweelingdorp Riebeek-Wes ‘n groeiende kunsbestemming.
En oor ‘n maand is dit weer tyd vir die jaarlikse Solo Studios-naweek waar kunsliefhebbers die unieke geleentheid kry om kunstenaars op intieme wyse binne-in hul werksomgewings te ontmoet en die kuns daar te waardeer.
In die hartjie van Riebeek-Kasteel lê ‘n juweel vir fotografie en die kunste.
Pictorex is ‘n drukateljee en fotografiese galery wat aan die meer as 50 kunstenaars in die Riebeekvallei die opsie van drukwerk van wêreldgehalte bied.
Met ‘n passie en filosofie dat ware fotografie en kuns eers in die gedrukte vorm werklik tot hul reg kom, lewer fotograwe William en Mary Walker ‘n besondere diens aan die kunsgemeenskap – een wat jy ver sal soek om op ‘n plattelandse dorpie te kry.
Pictorex se uitstalling as deel van vanjaar se Solo Studios, sluit ‘n groot verskeidenheid van kuns en fotografie in.
Van die deelnemende kunstenaars is al ‘n klompie jare by Solo Studios-naweke betrokke. Onder hulle is Greta McMahon, Jacky Lloyd (beeldhouer), Leila Fanner, Louisa Gerryts en Tanya Majo.
Naas foto’s deur William en Mary, sal werk van Ad Goedhart en Rudolph Willemse ook weer uitgestal word. Daar is vanjaar ook foto’s van Linda Harrison en Johan Viljoen.
Pictorex is in 2015 deur die Walkers hier begin. Hulle het uit Pietermaritzburg gekom, en kyk nie een oomblik terug nie.
“Dit is fantasties hier,” sê William. “Ja, ons is baie bevoorreg,” voeg Mary by.
Die naam Pictorex is ‘n samestelling. Picto was in die 1950’s die drukateljee waar meesters soos Henri Cartier-Bresson hul foto’s laat druk het en Rex was die naam van hul seun wat William en Mary 20 jaar gelede ná ‘n motorongeluk verloor het.
“Vir my is die druk van jou foto’s ook die beste manier om jou fotografie te verbeter,” sê William.
“Ek het besef elkeen is vandag ‘n fotograaf met hul selfoon, maar daar is nie meer drukkers nie.
“Ek het begin met ‘n klein 3-ink fotografiese drukker. ”
Hy het 12 jaar gelede ‘n digitale drukwerkswinkel by die Brooks Instituut in Santa Barbara, Kalifornië bygewoon onder die pionierdrukker R. Mac Holbert en die bekende fotograaf en fotografiedosent John Paul Caponigro.
In hierdie digitale era waar beelde ‘n baie kort lewensduur op sosiale media het, wil hulle fotograwe aanmoedig om hul eie werk te druk.
Pictorex is vandag ‘n volledig kleurbestuurde drukateljee vir kleurakkuraatheid en argiefpapier en ink van goeie gehalte word juis gebruik om beter, langerblywende kleure te verseker.
Oor sy eie fotografie-agtergrond vertel William toe sy oupa in die Eerste Wêreldoorlog in Afrika was, het hy gevra sy kamera moet vir hom aangestuur word.
Maar sy grootste invloed as ‘n kind was van sy oom, ‘n boer en kranige fotograaf, saam met wie hy baie tyd as ‘n kind deurgebring het. Hy het ook sy eie donkerkamer gehad. William se eerste kamera was ‘n Pentax – in navolging van sy oom.
Hulle het Pictorex eintlik sonder ‘n behoorlike plan hier gevestig en gedink die meeste drukkliënte sou uit Kaapstad kom.
Vandag, sê William, is drukwerk vir die plaaslike kunstenaars ongeveer 60% van hul besigheid.
Die idee met die galery was aanvanklik om top-fotograwe van elders se werk van die natuur en wildlewe uit te stal omdat hul nie vertroue in hul eie werk gehad het nie. Intussen het hul egter geleer dit is die foto’s van die streek waar jy is, wat die meeste aftrek kry.
Hy haal die Franse landskapfotograaf Alain Briot aan wat ‘n galery in Arizona het: “Ek het ‘n galery by die Grand Canyon. Ek verkoop nie foto’s van die Eiffeltoring by die Grand Canyon nie.”
William is ‘n baie noukeurige landskapfotograaf. Hy neem min foto’s van ‘n toneel en maak doodseker voor hy die knoppie druk. Dieselfde geld vir sy drukwerk.
Mary beaam: “Hy sorg eers alles is perfek, voor daardie foto of kunswerk sy ateljee verlaat.”
Sy vertel sy het haar eerste kamera al op laerskool gekry, maar dit was eintlik maar in die later jare ná die kinders uit die huis is wat hulle meer foto’s begin neem het. Toe hulle nog die bandebesigheid in Pietermaritzburg gehad het, het die Walkers dikwels naweke spandeer met landskapfotografie in die streek tot in die Drakensberge.
Mary se onlangse werk is grotendeels van naaldekokers en voëls. “Ons het nou meer tyd en daar is nie ander dinge wat ons aandag verg nie,” verduidelik William. As jy hulle op die stoep van hul huis kry, sal Mary se kamera met telefotolens altyd naby wees vir ‘n spesiale foto in hul eie tuin.
Kaartjies vir en meer inligting oor Solo Studios van 18 tot 20 Augustus is beskikbaar by https://solostudios.co.za/