EntertainmentNews

People [Passed] – portrette praat oor hul pad

.

Promosie

Die geskiedenis (nie net polities nie) van die ou museumgebou vorm die agtergrond van ‘n duo-uitstalling tydens Solo Studios wat onder meer die fokus laat val op die verdeling in die geskiedenis asook die aktuele en sensitiewe LGBTQI+-kwessies van die hedendaagse tyd.
Quentin du Plooy tree van 18 tot 20 Augustus op as die kurator van die Impendulo-uitstalling: PEOPLE [PASSED] by Solo Studios met die werke van besoekende fotograaf/dokumentêre filmmaker/joernalis Carl Collison en kunstenaar Hentie van der Merwe, beide woonagtig in die groter Swartland.

Die gebou – die eerste NG Kerk op Riebeek-Kasteel – word reeds jare as ‘n museum gebruik.
Du Plooy as deurwinterde binnenshuise ontwerper sê hy wil die talle antieke en minder antieke artefakte sodanig rangskik dat dit en die skilderye, foto’s en kortfilms van die twee kunstenaars mekaar sal aanvul.
Die werke van die kunstenaars sal “as’t ware as ‘n ekstra laag bo-oor die lae van die geskiedenis, permanent op uitstalling in die gebou, vertoon word”, verduidelik Du Plooy.

Untitled – Hentie van der Merwe

Die NG Kerk was die moeder waaruit die NG Sendingkerk destyds ontstaan het – vir baie ‘n simbool van rasseskeiding en die werklikheid van segregrasie, ook op geloofsgebied.
Du Plooy is ook ‘n direkteur van Impendulo (“die antwoord”),‘n organisasie sonder winsbejag.
Impendulo as jeugontwikkelingsinisiatief wil ‘n antwoord bied op die probleem van jongmense wat in antisosiale gedrag verval deur ‘n gebrek aan motivering, geleentheid en aktiwiteit.

Die uitstalling PEOPLE [PASSED] bring die twee kunstenaars – een bruin en een wit – van verskillende Swartlandse dorpe bymekaar. Elkeen – met eiesoortige lewenservarings – het ook van elders verhuis na die Swartland, die platteland – nuut vir hulle en ver van hul kreatiewe begin af.
Beide – die een met sy waterverfwerke en die ander met foto’s – bring portrette as ‘n verkenning van daardie ervaring.

I’m Trying to Find You In My Dream – Carl Collison

Hentie van der Merwe, gebore in Namibië, het beeldende kunste aan Wits Universiteit studeer en ook die Hoër Instituut vir Beeldende Kunste in Antwerpen en die gesogte Skowhegan-skool vir skilder en beeldhouwerk in Maine, VSA bygewoon.
Hy woon deesdae op Darling en het al verskeie solo-uitstallings in beide Suid-Afrika en Europa gehad en ook aan talle groepuitstallings deelgeneem.

Carl Collison is ‘n vryskutfotograaf, filmmaker en joernalis wat spesifiek LGBTQI+-verwante inhoud van regoor Afrika vervaardig.
Sy werk was al onder meer op die kortlys vir die Gerald Kraaktoekenning en bloemlesing.
Van sy kortfilms en fotografiese werk is al in Engeland, Argentinië, Kenia, Kanada, Brasilië en Mosambiek vertoon.
Collison woon op Porterville. Van sy werk in PEOPLE [PASSED] was ook deel van sy solo-uitstalling Islanded (No More), wat vroeër vanjaar by die Wes-Oregon Universiteit in die VSA aangebied is.
Kaartjies en meer inligting oor Solo Studios nou beskikbaar by https://solostudios.co.za/

Leave a Reply

error: Content is protected !!