Spirituele maskers; spontane abstrakte kuns by Solo Studios
Die fassinerende konsep en spirituele gebruik van maskers in Afrika en die ondersoek na spontane beweging in intuïtiewe werk is onderliggende temas van onderskeidelik Antoinette von Saurma en Ade Kipades se jongste werk. Beide sal van 18 tot 20 Augustus saam met 15 ander as ateljeekunstenaars aan Solo Studios in die Riebeekvallei deelneem.

Haar gewaarwording van die waarde en krag van maskers in die Afrika-kultuur en spirituele wêreld reglyning teenoor die belewing van die christelike geloof waarmee sy nog altyd bekend was, “is fassinerend”.
Antoinette von Saurma, ‘n boorling van Afrika (Namibia), het as jong kind “in die windverwaaide uitgestrektheid” op ‘n plaas by Gocheganas suid van Windhoek gewoon en was sedert haar skooljare in Johannesburg.
Sy spandeer nou ‘n paar maande van elke jaar op hul werkende plaas Zonquasdrift naby Riebeek-Kasteel.
Sy het “nog altyd geteken. Maar gedink dit is wat almal doen en dit nie as ‘n moontlike loopbaan beskou nie.
“My wonderlike kunsonderwyser op skool het toe gesê ek moet meer doen.”
Sy het in die vroeë 80’s haar Nasionale Diploma in Beeldende Kuns in Johannesburg verwerf en daarna ook aan die Universiteit van Kaapstad en meer onlangs in Duitsland as meesterstudent aan die Akademie der Bildende Künste studeer.

Von Saurma het daarna in 2016 aan die eerste Solo Studios deelgeneem, maar dit was weens die groot afstand van München en die tyd van die jaar sedertdien net nie prakties moontlik nie. Nou is sy vanjaar terug met ‘n uitstalling by Marras op Riebeek-Wes.
Sy en haar man het Zonquasdrift ‘n bietjie meer as 20 jaar gelede gekoop onder meer sodat hul kinders kan leer “dat die lewe nie net uit die gemak van reis tussen Europese stede bestaan nie. Dat jou verbintenis tot menswees belangrik is en jy die verantwoordelikheid wat jy teenoor die natuur en teenoor mense het, moet aanvaar.
“Ek woon en werk in München en Zonquasdrift, beïnvloed deur ‘n Europese familiegeskiedenis wat gekenmerk is deur die trauma van die laaste oorloë en my Afrika-kinderjare waarin ek bevoorreg was om veraf tromslae van geheime seremonies op maanlose nagte te hoor.”
Maar sy sê die Afrika-invloed op haar kuns is eintlik eers redelik onlangs en dit kom van haar blootstelling aan ‘n versameling van maskers in private besit.
“Met navorsing was ek uit die veld geslaan dat dit werklik moontlik is om met die spirituele kant van enigiemand kontak te maak – hetsy deur natuurlike geeste, voorsate, spesifieke geeste of die heelal of wat ookal – deur slegs ‘n masker binne jou persoonlike ruimte te plaas.
“Dít in kontras met wat ons in ons christelike gelowe het waar ons ‘n magstruktuur gebou het wat vir jou voorskryf hoe jy moet aanbid. Ná navorsing is dit so fassinerend dat ons as christene op ‘n manier daardie skakel wat dié gelowe het, mis.
“Jy sit net die masker op en kan – sonder voorskrif – dadelik kontak maak met jou god.

“Dit was nooit ‘n primitiewe ding nie. Dit is ‘n hoogs gesofistikeerde uitdrukking van ‘n begeerte om geestelik te wees. En dit is die fokus wat ek graag by Solo Studios wil tuisbring – hierdie maskers.”
Von Saurma het al solo-uitstallings by die Moskouse Museum vir Moderne Kuns; Kunst am CAS, LMU, Sentrum vir Gevorderde Studies, München; Punzmann Contemporary, Frankfurt am Main, en Coral Springs Museum of Art, VSA gehou.
Haar werk het ook al in verskeie groepuitstallings verskyn van Berlyn tot Riebeek Kasteel en Kaapstad, van Italië tot die Hefei Moderne Kunsmuseum in Sjina en self al die Celeste-kunsprys vir skilderkuns van Rome se Museo Montemartini ontvang.

Een van die ander deelnemende kunstenaars wat na Solo Studios terugkeer, is Ade Kipades -‘n opgeleide grafiese ontwerper wat vorms en lyne – deesdae beslis meer vloeiend – in sy kuns gebruik. In die proses herrangskik en omvorm hy om in balans die uiteindelike groter prentjie te voltooi.
Inmmerontwikkelende kleurvolle abstrakte werke wat ontstaan uit spontane beweging en intuïtiewe plasing van lyn en kleur.
Hy verduidelik dat, hoewel steeds in groot ooreenkoms met sy kuns tot onlangs, die nuutste tendens inderdaad meer vloeiend van aard is.

Ná sy studies aan die destydse Vaaldriehoek Technikon se Skool vir Grafiese Ontwerp, waar hy ook as Student van die Jaar aangewys is, het hy as vryskut baie illustrasiewerk vir onder meer kinderboeke en advertensie-agentskappe gedoen. Daarna het hy hom in Kaapstad voltyds op keramiekwerk toegespits.
Later vir tien jaar in Italië, waar hy ook burgerskap gekry het, ‘n bestaan gemaak met dié kunsvorm en sedert 2010 deeltyds ook begin met abstrakte ekspressionistiese werk.
“Ek het begin om liggaamsbeweging en die spontane maak van merke te verken.”
Hy het siek geword met longprobleme en moes in 2013 die keramiekwerk heeltemal staak.

In sy jare in Italië het hy toegang gehad en baie kunsmuseums besoek en veral ‘n studie gemaak van die werke en tegnieke van van die groot meesters.
“Dit is eintlik waar ek geleer het om te skilder soos ek vandag doen met daardie Europese invloed maar die primêre invloed is veral van die Italiaanse transavantgarde-beweging. Dalk ‘n bietjie van Picasso ook. Ek hou van kubisme.”
Die driehoekvorm is ook ‘n sterk element in sy werk.
Ade Kipades het in 2016 teruggekeer na Suid-Afrika en besluit om voltyds te skilder.
“Dit het altyd gegaan daaroor om my ondervindinge vas te vang.
“Die abstrakte kuns was nie altyd so algemeen aanvaarbaar nie. Mense het gevra of ek kan teken.
“Maar ek maak nie net ‘n mooi prentjies nie. Ek pas eintlik ‘n persoonlike filosofie toe.
“Algaande het die abstrakte werk meer byval begin vind.
“Tot verlede jaar was ek nog grotendeels besig om emosionele geheue in my liggaam te skilder/vas te vang met spontane beweging en intuïtiewe werk.”

Maar nou gaan dit meer oor hoe die dinge spontaan kom. As dit nie eers ‘n gedagte is nie, maar net verskyn. Nie net abstrakte kuns nie, maar ‘n besliste vorm in ‘n betrokke geherdefinieerde spasie, verduidelik hy.
Oor die abstrakte gesigte wat hy skilder, vertel Kipades dat hy altyd met voltooiing die persoon herken – iemand wat hy onthou.
Kipades se werk was al op talle solo en groepuitstallings beide plaaslik en oorsee.
Onder meer in Tulbagh, Stellenbosch, Kaapstad, Nieu Bethesda en Johannesburg. Ook die Venice Biennale; Ri-CREARE in Guardia Sanframondi,Italië en Florence.