Sy asma bring familie na die Swartland – Vlok
.
246 marathons en vader van die PPC Riebeek Bergmarathon
As jy gewonder het hoekom jy hom lanklaas iewers langs die pad sien hardloop het, Hennie Vlok herstel ná ‘n operasie maar hy hoop om oor twee weke weer op die pad te wees.
Dié bekende Swartland atleet is die vader van die Riebeek Bergmarathon wat môreoggend vir die 35ste keer in die Riebeekvallei aangebied word.
dié courant het met hom gaan gesels en ook deur sy atletiekalbum geblaai.
Die deelnemers aan die eerste Riebeek Bergmarathon het op 5 Julie 1986 op die Hermonbrug weggespring. Die wedloop met 265 atlete is in samewerking met die Riebeek Rapportryerskorps en onder beskerming van die Paarl Amateur Atletiekklub aangebied.
Dit is gewen deur Piet Vorster. Die daaropvolgende wenners was Nigel Evans (1987), David April (1988) en Maxwell Mase (1989).
In 1988 het PPC as hoofborg toegetree en dié gewilde wedloop word nou deur baie die PPC-marathon genoem.
Een van die moeilikste vol marathons in die land met twee passe en dan ‘n lang opdraand na die einde toe, staan dié marathon ook bekend as die Comrades van Boland.
Vlok (75) vertel die vol marathon “was die gewildste 42 in die land” en het vroeër jare by geleentheid meer as 2000 deelnemers gehad.
Daar is intussen ook ‘n halfmarathon, 10km en 5km op die dag se program bygevoeg.
Die wedlope, wat weens Covid-19 in 2019 die laaste keer plaasgevind het, begin en eindig deesdae by die PPC-aanleg buite Riebeek-Wes nadat dit in een stadium in Riebeek-Wes se hoofstraat begin het.
Vlok is die tweede van nege kinders.
Hy was as kind baie siek met asma en die dokters het aanbeveel hul verhuis van Stellenbosch na ‘n meer gepaste klimaat.
Hy het eendag net ‘n entjie gehardloop en toe agtergekom sy liggaam laat dit toe.
Vandag is hy nog baie sensitief vir enige swael – selfs as jy ‘n vuurhoutjie naby hom trek, maar die res is geskiedenis.
246 marathons – 10 keer die Comrades, 10 keer die Twee Oseane, die enigste persoon wat die Beaufort-Wes-marathon 10 keer voltooi het, talle ander wedlope waaronder die Voet van Afrika met ‘n tweede en ‘n derde plek.
“My beste Comrades was in 1981. Ek het ‘n goeie silwer gehardloop in ‘n tyd van 07:23:03.”
Sy laaste Comrades was sy virtuele Comrades in 2019 – van Riebeek-Kasteel af, oor Malmesbury na Moorreesburg en terug.
Vlok het op sy dag op Coetzenburg by die uurbyeenkomste vir Danie Malan pas aangegee in die 880 treë en was bekend vir sy konstante spoed.
“Hardloop is dissipline. En dissipline bring jy na jou werkplek toe. Ek glo aan dissipline. Daarsonder kan jy niks regkry nie.”
In 1985 het hardloopvriende gevra of hulle nie in sy kontrei kan kom hardloop nie. Daardie tyd het hy nog in die ou kleure van die Paarl deelgeneem. Die Bergmarathon is gebore. Hulle het later die Swartland Atletiekklub gestig.
Vlok boer saam met een seun, Handré, op die plaas Helderberg buite Riebeek-Kasteel. Sy ander seun, Arno, is ook ‘n suksesvolle boer.
Maar daar is nog ‘n hele paar Vlokke in die vallei.
Hulle ouers, Attie en Anna, het in 1958 die plaas Remhoogte hier gekoop.
Vandag is dié atleet se broers Driaan, Johan en Dries en suster Hannerie ook nog in die vallei.
Dan is daar die oudste broer, die bekende ortopediese sjirurg dr. Gert Vlok, Louwtjie Vlok (wingerdboukundige), nog ‘n broer Hermie (boer by Porterville) en suster Reinetta.