Slaglamgeskiedenis op Swartland Skou
Terwyl die Springbokrugbyspan gereed maak om hul Wêreldbekertitel in die land van die Franse te verdedig, het Franse skape gisteraand ‘n stukkie Wes-Kaapse geskiedenis gemaak in die slaglamkompetisie van die Swartlandskou op Moorreesburg.
Met uitsonderlike hoë punte aan die haak het Ile de France-lammers van Vredesig Boerdery skoonskip gemaak en al die top-pryse in die karkaskompetisie opgeraap.
Dit is die eerste keer wat ‘n boer só ‘n prestasie behaal en die beoordelaar wat die karkasse namens Samic beoordeel het, het gesê hy het “nog nooit sulke lammers gesien nie”.
John Dürr, die Rooivleisprodusente-organisasie se koördineerder vir slaglamkompetisies in die provinsie, het gesê dit is die beste wat hy ook nog gesien het.
Die kampioenkarkas het uiteindelik ‘n punt van 99,05% behaal. Dit is sowat drie persent hoër as die beste punt wat tot nog in die Wes-Kaap behaal is. Dié punt van 96% is op die Beaufort-Wes Skou behaal.
Vredesig se lammers het die eerste drie plekke in die enkellamkarkas-kompetisie opgeraap en hul het ook die beste groep (drie lammers) ingeskryf.
Eienaar Johnny Forbes, wat buite Darling ‘n Dormer en Suffolk-stoet het, vertel dié Ile de France-lammers is van sy kommersiële vee en nie van ‘n stoet nie.
Voordat die lammers geslag word, ding hulle ook in ‘n ander kompetisie op die hoef mee.
Die wengroep in die op-die-hoef-kompetisie is ook deur Forbes opgeraap met sy Ile de France-lammers.
Johan en Ben Mostert se Vleismerino/Dormerkruis-groep was tweede en PD Bosman se Dormergroep was derde.
In die kompetisie vir enkelslaglammers op die hoef het Forbes ook die eerste en tweede plekke verower met sy Ile de France-lammers.
PD Bosman was derde met ‘n Hampshire Down/Dormerkruis-lam.
Die wenkarkasse is weer opgeveil en die uitsonderlike kampioenkarkas (A2, 25,3kg) is vir R11 000 aan Gert Claassen van Malmesbury verkoop.
Die reserwekampioenkarkas (A2, 24kg) is vir R5 000 aan Kinnibaas Truter verkoop.