Daar is lig in tonnel met vleispryse – Dürr
Die produsenteprys van skaap- en beesvleis is tans tussen 12 en 15% laer as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
John Dürr van Malmesbury is ‘n streeksbestuurslid van die Rooivleis Produsente-Organisasie WK (RPO Wes-Kaap). Hy gesels oor die stand van sake.
Terwyl beide skaap- en beesvleis se produsentepryse buiten die normale seisoenale tendense tans op vlakke van 12-15% laer as verlede jaar dieselfde tyd beweeg en die prys van huide en velle steeds onder druk is weens die vorige verbod, is daar lig in die spreekwoordelike nabye tonnel.
Die algemene swak ekonomiese toestande in die land – stygende rentekoerse, hoër brandstofpryse, elektrisiteitskrisis (kostes binne die waardeketting), ens. – is alles faktore wat ‘n direkte invloed het op die laer besteebare inkomste van die verbruiker.
Die jongste navorsingsresultate van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) dui daarop dat ‘n groot persentasie verbruikers van hoër inkomste (LSM)-groepe na laer LSM-groepe geskuif het. Dit dra alles by tot bogenoemde laer pryse, want rooivleisprodusente is (soos in baie ander bedrywe) prysnemers en dus afhanklik van ander rolspelers in die waardeketting wat ook direk geraak word deur die faktore en dus hoër kostes.
Ons glo en vertrou dat die kleinhandelsektor ook reeds kennis geneem het van die prysdalings en dat hulle ook as standaard die verlaagde pryse na verbruikers dienooreenkomstig sal aanpas en nie net met spesiale geleenthede (aanbieding) nie.
Gelukkig het dit vanjaar in die Wes-Kaapse saaigebiede en ook in heelwat van die aangrensende ekstensiewe weigebiede van die land baie goed gereën wat baie goeie weidingstoestande tot gevolg het en dus laer uitgawes aan addisionele duur voedingsbronne en ‘n verhoging in die drakrag van die weidings.
Die grootste lig in die tonnel op die langtermyn is die afgelope week se nuus van Rooivleisbedryfdienste (RMIS) dat die verbod (weens bek- en klouseer) op uitvoere van skaap- en beesvleis na sekere Midde-Oosterse lande opgehef is ná besoeke en oudits op plaaslike voerkrale en abattoirs deur afvaardigings van dié lande.
Ook kon die eerste vrag lewendige skape na die Midde-Ooste die afgelope tyd verskeep word onder streng protokolle van die totale industrie en word daar met groot verwagting uitgesien na die terugvoer van dié besending wat daartoe kan lei dat daar dalk jaarliks sulke aksies kan plaasvind.
Bogenoemde aksies kan verbruikers moontlik tot kommer stem dat vleispryse tot onbekostigbare vlakke die hoogte kan inskiet, maar as dit produsente kan aanmoedig om weer ekonomies (tans nie oral die geval nie) te produseer en dus produksie weer tot op normale vlakke kan bring of selfs verhoog, kan verbruikerspryse ook normaliseer en weer bekostigbaar raak.
Saam daarmee natuurlik die hoop/moontlikheid dat bogenoemde negatiewe ekonomiese faktore weer na normaal kan terugkeer.
Die verantwoordelikheid ten opsigte van dieresiektebeheer en biosekuriteit gaan duidelik ‘n belangrike rol speel om die uitvoermarke verder te ontwikkel en sal elke rolspeler in die rooivleiswaardeketting – vanaf die produsent tot by die abattoir (agente/afslaers/vervoerkontrakteurs/veeartsenybeamptes – staat en privaat) hul verantwoordelikhede moet nakom.
Produsente sal egter ook moet besef dat bemarking moet plaasvind wanneer diere markklaar is en dat hulle nie moet wag vir hoër pryse wat dalk nooit ‘n werklikheid word nie. Hoe langer dié diere op plase bly, hoe meer vreet hulle en kan dan te swaar en te vet raak vir die markvoorkeure, die risiko loop van siektes, vrektes, veediefstal (tans die grootste bedreiging vir volhoubare produksie) en uiteindelik ook laer pryse (wanneer hulle te swaar of te vet is).
Die rooivleisprodusent asook die rooivleisverbruiker kan met groot verwagting uitsien na positiewe prysveranderings aan beide kante sodat rooivleisprodukte saam met egte Suid-Afrikaanse boerewors weer die nommer een plek inneem op die Suid-Afrikaanse verbruiker se bord.
John Durr, (Streeksbestuurslid, Rooivleis Produsente-Organisasie Wes-Kaap)