EntertainmentNews

Darling se blommeprag dié naweek uitgestal

Die Darling Veldblomvereniging is een van die oudste van sy soort en reeds in 1915 gestig. Hul jaarlikse Darling Veldblomskou dié naweek is een van die groot hoogtepunte op die Swartland-kalender.

Darling en die omliggende gebiede is die tuiste van ‘n groot verskeidenheid unieke veldblomme wat nêrens anders in die wêreld voorkom nie.
Elke jaar gedurende die derde naweek in September deel die vereniging die botaniese skoonheid van die streek in die vorm van ‘n veldblomuitstalling wat die renosterveld, vleiland, sandveld en strandveld uitbeeld.
Besoekers kry die geleentheid om van dié unieke veldblomme wat dikwels nie maklik bereikbaar is nie, van naby te sien. Daar is ook ‘n spesietafel waar die blomme met hul botaniese en algemene name soos Bobbejaantjie, Kelkiewyn en Snotrosie uitgestal word.

Besoekerkaartjies sluit toegang in tot die Darling Museum en markplein, waar inheemse plante, versnaperings en plaaslike produkte te proe en te koop sal wees met plaaslike musiek as vermaak.
Jou toegangsgeld sal ook bydra tot die bewaring van Darling se veldblomme.

Die veldblomskou (op die hoek van Hill- en Pastoriestraat) se ure is Vrydag 15 September tot Sondag 17 September daagliks van 09:00 tot 16:00. Toegang beloop R80 vir volwassenes en R60 vir pensioenstrekkers. Kaartjies kan ook vooraf gekoop word op Quicket.
Naas die veldblomskou wat by die Darling Museum gehou word, kan besoekers vanjaar ook van ‘n taxi-diens gebruik maak na ander gewilde punte op ‘n sirkelroete.

Onder die plekke langs dié roete tel die Duckitt Orgidee-plaas en reservaat, die Renosterveld- reservaat, die veldblomskou, Ormonde-wynplaas, Koffie my Darling, Darling Brew en Evita se Perron.
Kunstenaars op Darling gooi ook dié naweek hul deure oop vir die publiek met die Darling Art Collective se ope naweek van 10:00 tot 16:00 elke dag. Die brosjure en kaart is by verskeie punte in die dorp beskikbaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!