FEATUREDNews

Koringberg vier 100 jaar

Graanboerdery is een van die kernaktiwiteite in die Swartland en met koring die grootste gewas, is die streek nie verniet bekend as die broodmandjie van die Kaap nie.
In die hartjie van die Swartland lê Koringberg, een van die streek se talle juwele.

Só dikwels lê skatte nie altyd langs die hoofpaaie nie. Jy draai by die gewilde Desert Rose-padstal tussen Moorreesburg en Piketberg wes en 6km verder, anderkant die randjie, lê dié dorp wat vanjaar ‘n 100 jaar oud is.
Name en hul oorsprong het dikwels uiteenlopende verduidelikings en Koringberg wat in 1923 tot stand gekom het, is geen uitsondering nie. Een van die verklarings is die berge koring wat boere destyds in sakke opgestapel het by die plaaslike koöperasie waar hulle hul oes gelewer het. ‘n Ander verduideliking is die vaalgras wat teen die kop/berg (Koringberg) agter die dorp groei en in die lentetyd pluime maak wat kompleet soos kolle koring vertoon.

Bo-op die NG Kerk se toring pryk ‘n aar wat op die koringbedryf wys.

Vandag is Koringberg nog ‘n klein dorpie. Rustig en steeds half plaas.
Daar is by die 2000 inwoners en as jy ‘n besige hoofstraat verwag, is Koringberg nie die plek nie.
By die oostelike ingang is ‘n boetiekhotel in aanbou, maar naas twee kleindorpwinkels en ‘n voggieswinkel, het die hoofstraat wat sake betref deesdae eintlik net ‘n gesamentlike agentskap van die poskantoor en die munisipaliteit.

Rustig en kalm

Koringberg se geskiedenis dateer terug na die plaas Hooggelegen in 1709, later onderverdeel in drie plase. Eens bekend as Warren’s Camp (‘n ene mnr. Warren was destyds ’n hoofingenieur op die Spoorweë), het die dorp sy ontstaan toe lidmate in dié geweste van die Hopefield en Moorreesburg NG-gemeentes op 23 Oktober 1923 die nuwe gemeente op die plaas Brakwater gestig het.
Die vergadering is in ‘n graanstoor van die spoorwegkamp gehou.

 Die ateljee van die inwoner en kunstenaar W.F. Jones.

Die dorp hou vanjaar vroeg in Oktober (6de tot die 8ste) eeufees omdat die oestyd later in Oktober aanbreek en die graanboere hulle dan daarop moet toespits.
Op Koringberg kan jy nog soggens hane hoor kraai en skape en perde op die ruim dorpserwe sien wei.
Pragtig groen in die winter, vol blommetjies langs die strate in die lente en in die somer, wel dan kan dit nogal warm raak. Net soos elders in die Swartland.
As jy tussen die groen (en in die vroegsomer, geel) graanlande oor daardie randjie kom, troon graansilos links en die boompies van die begraafplaas regs oor die dorp.

Daar is in 1924 begin met bouwerk aan die eerste gedeelte van die NG Kerkgebou met die toring wat in 1955 bygevoeg is. Op die kerktoring is daar nie ‘n haan nie, maar eerder baie gepas ‘n koringaar saam met die kruis wat die vier windrigtings aandui.
Eie aan die graanstreek is twee van die oudste geboue langs die hoofstraat dié van die eerste twee rollermeule wat gebruik is. Die eerste een is tans ‘n winkel en die ander staan toe met die pos- en munisipale agentskap wat uit ‘n kantvertrek bedryf word.

Dié gebou het sedert 1920 die tweede ou rollermeule gehuisves.

Laasgenoemde is ‘n dubbelverdiepingstruktuur met dik mure aangrensend aan die markplein. Dit is gebou uit leiklip en ‘n mengsel van grond, klei, water en strooi. Dit staan al lank toe, maar was later jare ‘n informele museum en huisves steeds ‘n interessante versameling landbougereedskap. Dié rollermeul wat deur ‘n stoomenjin aangedryf is, was in gebruik van ongeveel 1920 tot ná die tweede wêreldoorlog. Uit die omgewing het almal hul koring daarheen gebring om gemaal te word.
Al is die Desert Rose-padstal die naaste restaurant vir ‘n ete of ‘n heerlike koppie koffie, is daar etlike verblyfopsies op Koringberg. Dié raak ál meer gewild onder besoekers wat die platteland se skoonheid opsoek of ‘n bergfietsroete wil aandurf.
Daar is ook ‘n staproete teen Koringberg, vanwaar pragtige vistas jou begroet. Stappers op die Cape Camino besoek deesdae die dorp en oornag gereeld by Die Ark op die plaas Hooggeleë.

Vir watersportgeesdriftiges is Club Elani by die Misverstanddam, die grootste dam in die Swartland munisipale area, 17km oos geleë.
Talle besoekers doen ook op Moorreeesburg aan by die Koringbedryfmuseum, een van slegs twee oor die geskiedenis van dié bedryf in die wêreld.
Koringberg groei in gewildheid. Nie net vir naweekbesoekers wat wil wegbreek uit die stad nie, maar dit is reeds die tuiste vir talle voormalige besoekers wat net nie weer kon weggaan nie.
Ja, ander het al weer die wortels gelig omdat dit vir hulle ‘n bietjie stil is. Onder die inwoners tel kunstenaars, skrywers/digters, regslui, geleentheidbeplanners, afgetrede bibliotekarisse, joernaliste en fotograwe.
Heelparty ou huise is al gerestoureer terwyl daar ook ‘n klompie meer moderne huise gebou is.
Die verblyfopsies vir besoekers wissel van selfsorg tot kampeer, en (soos genoem) is die eerste Boetiekhotel in aanbou.

Dié twee geboue in die hoofstraat was voorheen die handelshuis en motorhawe.

Die Ou Pastorie is een van die skatte op dorp en dié se eienaar het vroeër wingerd in die voortuin geplant om wyn by ‘n boetiekkelder te maak.
‘n Klompie jare gelede is die rillerfliek Koringberg op die plaas Vleidam, wat aan die dorp grens, geskiet. Dit is vandag ‘n gasteplaas.
Koringberg se kalm kruip maklik onder mense se vel en is deur en deur ‘n besoek werd.

Daar is gewilde staproetes met pragtige uitsigte oor die kontrei.

*Die eeufeesvieringe:
Die naweek skop op Vrydag 6 Oktober af met ‘n piekniekkuier saam met sanger Arno Jordaan. Saterdagoggend is daar stalletjies, kindervermaak, trekkerritte, wynproe en potjiekos gevolg deur ‘n lamspitbraai en straatdans die aand. Om die naweek af te sluit is daar die Sondag ‘n opelugkerkdiens op die program.
Vir navrae, skakel Lize Steyn by 082 263 9424.

Leave a Reply

error: Content is protected !!