Veldblomskou was lushof; veld steeds mooi
Die jaarlikse Darling Veldblomskou is dié naweek by die museum op die dorp gehou. Die besondere uitstalling is hier binne-in die implementeskuur aangelê waar die spesietafel ook gehuisves is.
Die Darling Veldblomvereniging is een van die oudste van sy soort en reeds in 1915 gestig.
Darling en die omliggende gebiede is die tuiste van groot verskeidenheid unieke veldblomme wat nêrens anders in die wêreld voorkom nie.
Gaste kon weer ‘n besonder groot verskeidenheid blomme uit die streek, waarvan heelparty dikwels nie maklik bereikbaar is nie, van naby besigtig terwyl die weer die eerste twee dae beslis die besoekergetalle beïnvloed het.
Volgens Con Meyer het hulle vanjaar ook heelwat minder busse gehad wat besoekers gebring het. Hy het Namakwatoere uitgesonder en bedank vir hul ondersteuning om wel heelparty gaste na dié skou te bring.
Naas die uitstalling waar baie van die ou implemente en waens ook vanjaar as agtergrond en basis ingespan is, was daar weer ‘n markarea met musiek en produkte uit die streek asook weer ‘n uitstalling van veteraanmotors.
Intussen is die veld om Darling steeds baie mooi met pragtige veldblomme, ook in die reservate in en om die dorp. Dit is beslis ‘n besoek werd.