Swartlanders slaggereed vir Riebeek-tydren
Dis weer tydrentyd in die Swartland wanneer jaers dié naweek mekaar op die plaaspaaie in die Riebeekvallei die stryd aansê.
Met ‘n deurdrenkte Wes-Kaap en nog reën wat ook vir die naweek voorspel word, kan jaers en toeskouers verwag dat die modder sal spat.
Dit is die laaste tydren van die jaar in die provinsie en die Swartland se deurwinterde tydrenjaer Cobus Edas, sy seun, Juneyed, en dogter, Rehanah, is almal onder die inskrywings vir dié naweek se aksie.
Cobus sal saam met navigator Carl Peskin in sy Toyota Corolla Rsi 1800 in klas S4 meeding.
Hy sê hulle voorspel maar weer ‘n nat naweek, maar dit is klaarblyklik nie vir Edas ‘n probleem nie. Hy het op die nat Porterville-tydren in Junie vanjaar die eerste plek op die podium losgejaag in sy klas.
Juneyed en Rehanah sal hul aanslag in klas S3 in hul Toyota Conquest 1,6 loods.
Hulle het op hul beurt kul klas gewen in die Darling-tydren en beklee tans die 2de plek in klas S3.
Die huidige algehele voorloper en gunsteling om die streekkampioenskappe te wen, is oud-Swartlander Inus du Plessis wat saam met navigator Piet Carinus in hul BMW E36 330i in klas S5 meeding.
Saterdag se tydren begin die oggend by Suzuki op Malmesbury en daar is dan ses skofte in die Riebeekvallei.
Die eerste twee skofte van die 2023 Jarat Tours Riebeek Valley Rally word suid van Riebeek-Kasteel (van Vlakkenheuwel tot Swartdam) beslis en het nie amptelike toeskouerpunte nie.
Daar is wel toeskouerpunte op die ander vier skofte – 3 tot 6. Dié skofte word oos en noordoos van Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes beslis van die plase De la Gift tot Langvlei.
Die totale afstand van die ses skofte is 80,58 km (skofte 1 en 2 – 10,91km; skofte 3 en 5 – 17,12km en skofte 4 en 6 is 12,26km).
Daar is weer ‘n dienspark by Meiring Primêr en die prysuitdeling is by The Jolly Olive in Kerkstraat, Riebeek-Kasteel.