EntertainmentFEATURED

Poësie soos huis bou – Jonker

‘n Gedig is soos ‘n huis. Jy bou hom baksteen vir baksteen.
Só het die plaaslike digter Donker Jonker op ‘n mini-werkwinkel oor gedigte skryf by die maandelikse woordkunskuier (Poetry Jam) op Riebeek-Kasteel gesê.
“Jy moet ‘n gedig lyn vir lyn bou.

“Die enigste manier om hom te begin bou is steen vir steen.
“Dit is hoekom baie mense nie skryf nie. Hulle wil begin met ‘n huis.
“Dan gaan jy nooit begin nie. Dis te veel. Dis te groot.”
Jonker sê die boekies is altyd by.
“Jy moet ‘n boekie hê. Skryf daardie bakstene neer as hulle kom. Enige plek as ‘n gedagte opduik. Dis iets wat jy op ‘n advertensiebord lees. Dis iets wat iemand sê. Iets wat jy hoor of in ‘n movie sien, wat ‘n saadjie plant. Gryp hom. Bêre hom.
“Dit kan ‘n enkele woord of lyn wees.”

Dan, as jy ‘n baksteen soek wat pas, kan jy dit daar gaan uithaal.
‘n Gedig “hoef nie lank te wees nie. Dit hoef nie ‘n dubbelverdiepinghuis te wees nie. Dit kan sommer maar net ‘n duiwehok ook wees.”
Jonker sê lang gedigte is meer verhalend en gee meer ruimte en woordkeuse is nie so krities soos kort gedigte nie.
“Hoe korter die gedig raak, hoe meer gelaai is jou woorde. Dan moet jy beter kies. Die minimalisme van kies en slyp, dit is vir my ‘n uitdaging. Jy distilleer ‘n gedig fisies tot sy “essentials”.

“Daar hoef ook nie rym in ‘n gedig te wees nie. Rym is nie wat van woorde ‘n gedig maak nie. Inteendeel. Rym kan baie keer van pragtige woorde ‘n baie swak gedig maak.”
Mens moet pasop om te tegnies te raak. “Jy moet jou ritme behou. Die musikaliteit van woorde moet aandag kry.”
Jonker sê mense skram weg van skryf wanneer hulle emosioneel is, maar dit is juis wanneer jy moet skryf. As jy seer is of bang. Bly of hartseer of kwaad.

“Skryf jou duiwels uit.
“As jy daardie emosies inspan, gaan jy altyd gedigte hê.”
Skryf spontaan.
“Moenie wag vir ‘n klaar gedig nie. Skryf enige gedagte. Skryf skryf skryf.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!