CommunityNews

Eerste “skote klap” vir Wyk 7

Die eerste salvo’s is gevuur in die komende tussenverkiesing in Wyk 7 van die Swartland Munisipaliteit wat op 8 November gehou word.
Die pos van wyksraadslid is vakant gelaat toe raadsheer Basil Stanley uit die DA en só ook sy posisie as raadslid bedank het.
Die wyk sluit Kalbaskraal, Abbotsdale en ‘n gedeelte van Malmesbury in.

Politieke partye is kliphard aan die werk en dié courant het met van die kandidate gesels en sal met nog kandidate gesels soos hulle bekend word.
Die ANC se hoofsweep in die Swartland, raadslid Bulelani Penxa, het aan dié courant bevestig dat hulle ‘n kandidaat in die verkiesing sal hê. Hy het gesê hulle sal ná ‘n gemeenskapvergadering op Sondag 1 Oktober hulle kandidaat bekend maak.

Die provinsiale sekretaris van die EFF, Mbulelo Magwala, het ook aan dié courant bevestig dat hulle ‘n kandidaat in die verkiesing sal hê en die naam ná dié naweek sal bekend maak.
Die onafhanklike kandidaat Ewerd Syster wat met die vorige verkiesing ‘n groot klomp van die stemme gekry het (33,52%), het aan dié courant bevestig dat hy nie aan hierdie ronde gaan deelneem nie, maar weer aan die volgende munisipale verkiesing.

Intussen het die DA, PA en VF+ reeds hul kandidate aangewys.
Allan Williams is die DA (Democratic Alliance) se kandidaat, Rodney Esau dié van die PA (Patriotic Alliance) en Amber Booysen sal die wyk vir die VF+ (Vryheidsfront Plus) probeer inpalm.

Die DA se kandidaat, Allan Williams

Allan Williams (51) sê hy is ‘n boorling van Abbotsdale en tans ‘n senior verkoopsman by KaapAgri.
“My doelwitte vir die wyk is om diens te lewer van hoogstaande gehalte.
“Om die gemeenskap te beveilig en geleenthede te help skep.
“Ek wil ook help om die kragonderbrekings hok te slaan.”

Die PA se kandidaat, Rodney Esau

Rodney Esau (35) sê hy is sy lewe lank in die Swartland en woon reeds meer as 20 jaar op Abbotsdale.
Hy is ‘n entrepreneur met sy eie konstruksiebesigheid en “help ook opkomende entrepreneurs om hul voete in die besigheidswêreld te vind. Dienslewering is noodaakliklik en ek wil saam met my gemeenskap werk om ‘n verskil te maak, want alleen sal ek dit nooit kan doen nie, maar saam sal ons baie kan vermag.
“Ek wil die behoefte aan deernis aanspreek.”

Die VF+ se kandidaat, Amber Booysen

Amber Booysen (48) woon op Malmesbury en is tans ‘n proporsionale raadslid van die VF+ in die Swartland.
“Wyk 7 het ‘n raadslid soos ek nodig wat hardwerkend is in my pligte, getrou is en ek sal altyd die kiesers se belange eerste stel. Ek stel myself 24/7 beskikbaar vir gemeenskapsklagtes soos elektrisiteitsprobleme, infrastruktuuropgradering, munisipale klagtes en misdaadbekamping, watter aard ookal – my goeie diensleweringreputasie en gemeenskapsbetrokkenheid is wel bekend.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!